ʼn Polisiebeampte wat in hegtenis geneem is in verband met ʼn transitorooftog het Dinsdag in die Sasolburg-landdroshof verskyn.
Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, sê die 39-jarige beampte wat vir misdaad intelligensie werk sal in aanhouding bly. Die saak is tot Donderdag uitgestel wanneer die beampte saam met vier ander beskuldigdes in die hof sal verskyn insluitend nog ʼn polisiebeampte. Die mans word daarvan beskuldig dat hulle in Februarie vanjaar ʼn transitovoertuig van minstens R3 miljoen beroof het. Die voertuig van Coin Security het van ʼn depot in Naledi Industrial Park gery toe ʼn Toyota Land Cruiser by ʼn stopstraat teen dit vasgery het. Nog twee voertuie het op die toneel opgedaag en drie mans het uitgeklim en die op transitovoertuig losgebrand waarna hulle met die geld gevlug het. ʼn Veiligheidswag is tydens die rooftog gewond.