ʼn KwaZulu-Natalse polisiebeampte het glo sy vrou, hul twee kinders en nog ʼn vrou doodgeskiet voor hy selfmoord gepleeg het.
Kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, sê die polisiebeampte het glo in ʼn rusie met sy gesin betrokke geraak waarna hy hulle glo doodgeskiet het en toe selfmoord gepleeg het. Hy sê die polisiebeampte se kollegas het Maandag na sy huis in South Port, Port Shepstone gegaan nadat hy nie vir werk opgedaag het nie. Die beampte se vrou en twee seuns, onderskeidelik 15 en tien jaar oud, se lyke is in die huis gekry. Die polisiebeampte, ao. Linda Shange (49), het steeds geleef maar het onderweg na die hospitaal aan sy beserings beswyk. Zwane sê die moontlikheid word ook ondersoek dat die polisiebeampte ʼn 40-jarige vrou vermoor het voor hy sy gesin doodgeskiet en selfmoord gepleeg het. Die vrou was ʼn administratiewe klerk by die polisie se misdaadintelligensie-eenheid.