Proteskonvooi beplan teen e-tolstelsel

Voertuie wat karavane sleep, motorfietse en ander voertuie sal Donderdag in ʼn konvooi teen die e-tolstelsel op die snelweg tussen Johannesburg en Pretoria protes aanteken, het die Vryheidsfront Plus Dinsdag gesê.

Sapa berig dat woordvoerder Anton Alberts gesê het dat hulle die regering wil dwing om die e-tolstelsel in sy geheel te skrap. “Die regering moet verstaan dat die publiek se opposisie teen die stelsel nie sal verdwyn nie.” Die protes word onder die vaandel van die VF Plus, die Nasionale Belastingbetalingsunie, die SA Karavaanvereniging en verskeie motorfietsklubs gehou. “Ons glo dat die algemene protes ook die saadjie sal plant vir die sistematiese ontwikkeling van ʼn algemene belastingprotes teen belastinguitbuiting en swak dienslewering,” het Alberts gesê. Meer protesoptogte word tot die einde van April beplan wanneer die e-tolstelsel na verwagting in werking sal tree. Alberts sê die proteskonvooi sal om 07:00 Donderdagoggend by die Shell Ultra City op die Ben Schoemanhoofweg wegspring in die rigting van Johannesburg. “Daar sal verskeie insamelingspunte by besige kruisings beskikbaar wees waar motoriste versoek sal word om ʼn donasie te maak. Die fondse sal in ruil vir ʼn protesplakker vir regskoste aangewend word,” het Alberts gesê.

Die kabinet het onlangs die e-tolstelsel vir snelweë rondom Johannesburg en Pretoria in Gauteng goedgekeur. Vanaf 30 April sal motorfietse met ʼn e-tolskyfie sowat 20c/km betaal en sonder ʼn skyfie, 38c. Ligte voertuie sal onderskeidelik 30c en 58c/km betaal. Ongelaaide vragmotors sal onderskeidelik 75c en R1.45 betaal en gelaaide vragmotors R1.51 en R2.90. Die koste vir motorfietse en ligte voertuie word tot ʼn maksimum van R550 per maand beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.