In totaal is 210 renosters reeds sedert die begin van die jaar gestroop, het die departement van omgewingsake Maandag gesê.
In die Nasionale Krugerpark is 127 renosters onwettig doodgemaak, het Albi Modise, woordvoerder, in ʼn verklaring gesê. “Die regering beskou die stropery van hierdie nasionale skat in ʼn baie ernstige lig en hou aan om die stryd teen hierdie misdaad te prioritiseer deur gekoördineerde, gesamentlike pogings,” het hy gesê. In Limpopo is 29 renosters gestroop, 22 in KwaZulu-Natal en 19 in Noordwes. Gedurende dieselfde periode is 165 stropers in hegtenis geneem, waarvan 67 in die Kruger Nasionale Park. Modise doen ʼn beroep op die publiek om enige inligting oor renosterstropery wat tot inhegtenisnemings kan lei, aan te meld. -SAPA