Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Saterdag die gesinne, wat broodwinners tydens die gewelddadige aksie by Lonmin se Marikana-myn verloor het, gerus gestel dat die regering hulle sal ondersteun.
Maatskaplike werkers van die departement van maatskaplike dienste is reeds besig om die behoeftes van die betrokke gesinne te bepaal. Motsoaledi het saam met Collins Chabane, minister in die presidensie, die begrafnis van die 24-jarige Papi Ledingoane, wat meer as ‘n week gelede tydens die aksie doodgeskiet is, bygewoon. “Ons het die gesinne versoek om ‘n lys van hul behoeftes aan ons te oorhandig. Ons het kospakkies vir al die betrokke gesinne,” het Motsoaledi gesê.
Twee ander begrafnisse is in die Oos-Kaap gehou vir slagoffers in die tragedie.
Polisie het verlede week Donderdag op stakende werkers begin skiet en 34 myners is dood en 78 beseer. Duisende rotsbooroperateurs het oor hul salaris-eise begin staak, en 44 mense, insluitend twee polisiebeamptes het in die gewelddadige aksie gesterf.
Sommige van die myners weier steeds om terug te gaan werk toe, alvorens hul eis van R12 500 per maand, nie toegestaan word nie.