Rugbyblog: Verbeeldinglose, eendimensionele, stampkar-rugby

Adriaan Strauss van die Cheetahs probeer wegbreek.

Nadat ek die naweek die derde rondte van die Super 15 dopgehou het, het ek tot een enkele slotsom gekom: die Suid-Afrikaanse spanne speel verbeeldinglose, eendimensionele, stampkar-rugby wat laas in 2009 suksesvol was.

Dit is baie duidelik dat die Nieu-Seelandse spanne die spel na ʼn ander vlak geneem het. Amper so-iets soos John Collins se “Good to Great and the Social Sectors” dit stel: Die Nieu-Seelanders het gebou aan ʼn raamwerk vir grootsheid op die sportveld en dit word weerspieël in die rugby wat hulle speel.

Daar is die minimum van skopwerk en die bal word wyd gespeel. Spelers hardloop nie met brute krag in hulle teenstanders vas en probeer deur hulle hardloop nie. Nee; slim hardlooplyne help om die speler aan hulle buitekant in ʼn beter posisie te plaas en ruimte te skep vir aanvallende spel. Die binne-aangee word oordeelkundig gebruik om gapings te slaan.

In die wedstryd tussen die Cheetahs en die Chiefs het die Cheetahs verwoed aangeval en die bal ook wyd gespeel, met die verskil dat hulle baie selde oor die voordeellyn gekom het. Die Chiefs het soos tiere verdedig, maar die oomblik wat hulle die losbal bemeester het, het die spelskeppers in die agterlyn talle kere die Cheetahs laat bontstaan. Die Chiefs het talle balle by die Cheetahs afgeneem. Dit was by verre die beste wedstryd van die naweek (die wedstryd tussen die Blues en die Crusaders was nie ver agter nie).

Die Cheetahs was weliswaar met halftyd net 10-3 agter, en dit bloot omdat Johan Goosen met drie strafdoele misluk het. Sukses in sy strafdoele kon die telling 12-10 in die Cheetahs se guns geplaas het.

Daarna is die Cheetahs ʼn rugby-les geleer, deurdat die Chiefs met sprankelende hardlooprugby vyf onbeantwoorde drieë gedruk het om die wedstryd gemaklik met 45-3 te wen.

Die Crusaders was duidelik nog nie wedstrydskerp nie en het voor die Blues-aanslag geswig en met 34-15 verloor. Die span van die Blues het onder leiding van die nuwe afrigter, John Kirwan, hul selfvertoue herwin en behoort selfs in die vroeë stadium een van die gunstelinge te wees wat beslis teen die einde in die semifinale sal meeding.

Ek voorsien swarigheid vir die Bulle volgende Sondag teen die Blues in Auckland. Veral ná die lustelose vertoning teen die Force op Loftus. Die bonuspunt oorwinning is na my mening ʼn gelukskoot wat die Bulle moet koester, want om ná 50 minute se spel op Loftus met 22-26 agter te loop, het tientalle stoere Bloubul-ondersteuners angsaanvalle laat kry (ek ook). Om die wedstryd uiteindelik met 36- 26 te wen, spreek boekdele van hulle karakter. Dit neem nog nie die feit weg dat die Bulle gesukkel het nie. Hul spel was by uitstek lusteloos en die besluitneming swak. Gelukkig het die voorspelers hulle dryfspel tot goeie voordeel aangewend en twee goeie drieë is so gedruk.

Die Australiese derby tussen die Rebels en die Waratahs het ook maar so-so spel gelewer met die Waratahs wat uiteindelik die wedstryd met 31-16 gewen het. Dit plaas hulle nou tweede na die Brumbies wat vier punte na ʼn loslootjie gekry het.

Die Hurricanes was teleurstellend in hulle 18-12 nederlaag teen die Reds. Beide spanne het maar verbeeldingloos gespeel alhoewel die toestande sekerlik daartoe bygedra het.

Dit bring my by die wedstryd wat seker die meeste belangstelling in Suid-Afrika uitgelok het naamlik dié tussen die Sharks en die Stormers. Dit was moeilik en meedoënloos … en verbeeldingloos. Talle kere het die stampkar-rugby hoogty gevier en die sterkste pak voorspelers het uiteindelik die deurslag gegee. Met die meerderheid van balbesit het die Sharks met skopwerk in die Stormers se halfgebied gekom en dan is daar geduldig gewag vir ʼn fout wat ʼn strafskop tot gevolg gehad het en dan het Pat Lambie sy kanse gebruik.

Joe Pietersen het sy bes vir die Stormers probeer, maar kon slegs met twee strafskoppe slaag wat die eindtelling toe 12-6 in die guns van die Sharks gelaat het.

Komende naweek gaan die Bulle beslis tweede kom teen die Blues in Auckland. Die opwindendste wedstryd sal seker die tussen die Cheetahs en die Highlanders wees. Ek verwag dat die Cheetahs hier met ʼn kortkop gaan wen.

Die Southern Kings sal met ʼn harde slag aarde toe kom in hulle wedstryd teen die Sharks en selfs die tuisveld-voordeel sal nie genoeg wees om hulle eerste poging in die Super 15 te herhaal nie. Indien dit wel gebeur sal dit die grootste verrassing wees in die Super 15 van 2013.

Die Stormers staar ʼn derde nederlaag in die gesig, want die Saterdag draf hulle teen die Chiefs uit op Nuweland. Kom ons hoop dat die skare hulle die nodige ondersteuning sal gee, want hulle gaan dit beslis nodig kry.

Rugbygroete tot volgende keer.

Polla Roux

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae