ʼn Suid-Afrikaanse veiligheidsinstrukteur, Lodewyk Pietersen (55), is Vrydag deur ʼn veiligheidswag doodgeskiet in Puntland, ’n semi-outonome gebied in die noorde van Somalië.
Pietersen het volgens berigte vir Saracen International, ʼn maatskappy wat taakmagte teen seerowers oplei, gewerk. Hy was getroud met kinders. ʼn Woordvoerder van Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge, Clayson Monyela, sê hulle is nog nie van sy dood in kennis gestel nie. Volgens ʼn verklaring van Puntland se regering, is Pietersen doodgeskiet terwyl hy die land se maritieme magte vergesel het in ʼn sending wat seerowers geteiken het. Pietersen is glo deur sy lyfwag doodgeskiet ná ʼn argument. Somalië is een van die gevaarlikste plekke vir buitelanders om te werk.