0%-alkoholvlak gaan nie padsterftes laat afneem

(Argieffoto: pixabay)

Voorgestelde wetgewing dat motoriste geen alkohol mag gebruik nie, gaan nie die resultate oplewer wat die regering verwag nie en gaan onskuldige motoriste onnodig kriminaliseer.

Dit is die mening van die Outomobiel-Assosiasie (AA) in reaksie op die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Padverkeer.

Die wysigingswetsontwerp het ten doel om die wettige bloedalkoholvlak vir motorbestuurders tot nul te verlaag. Die wettige perk is tans 0,05 g/100 ml.

Die Padverkeersbestuurskorporasie het in Augustus gesê dronkbestuur jaag die regering jaarliks ʼn geraamde R18,2 miljard uit die sak en dat ongeveer 27,1% van alle noodlottige ongelukke in die land weens dronkbestuur plaasvind.

Die AA meen egter die verlaging van die wettige perk na nul gaan nie die probleem oplos nie.

“Dit gaan motoriste net sagte teikens maak vir verkeersbeamptes. Onskuldige motoriste, wat byvoorbeeld medisyne gebruik wat moontlik ʼn klein hoeveelheid alkohol bevat en wat geen uitwerking op hul bestuursvermoë gehad het nie, gaan gekriminaliseer word.”

Die AA sê hoewel Suid-Afrika se huidige wettige perk nie naastenby in ooreenstemming met internasionale standaarde is nie, vereis die krisis op die land se paaie ʼn veel strenger aanslag. Die AA stel voor dat die perk van 0,05 tot 0,02 verlaag word, ʼn vlak wat in talle ander lande geld.

Die organisasie sê belangrike stappe tot gedragsverandering moet ook gedoen word eerder as om bloot veranderinge aan wetgewing te maak.

“Meer intensiewe en voortdurende fokus op nasionale padveiligheidsopvoeding, strenger afdwinging van bestaande wetgewing en groter bewusmaking van die gevare van dronkbestuur moet aan die orde van die dag wees.”

Die organisasie is ook van mening dat mense wat drink en bestuur nie hul gedrag gaan verander nie en omdat daar geen gevolge is nie, is hulle bereid om die kans te waag om gevang te word.

“Ons moet op ʼn plek kom waar motoriste bang is om te drink en te bestuur.”

Die AA sê hy sal voor die sperdatum (20 November) op die voorgestelde wysigings kommentaar lewer en voorleggings aan die parlement oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Wielspore ·

Ek is ten gunste van die wetgewing, as jy iewers heen op pad is as bestuurder is jou funksie om nugter en wakker te wees om veilig by jou bestemming aan te kom. As y ‘n drankie wil geniet, bly by die huis, ry saam iemand, slaap oor, dit kan tog nie so moeilik wees om reelings te maak.
Lekker ry.!

Anoniem ·

Hoe gemaak wanneer jy siek is en hoesstroop drink wat ‘n baie klein persentasie alkohol bevat? Moet siekes dan ook van die pad af bly?

Vriendelike Frikkie ·

Ja, as hulle alkohol in het of ander pille wat die bestuursvermoë aantas.

Wielspore ·

Daar is wel ‘n waarskuwings op medikasie se notas, daardie fyn skrif wat niemand lees. Moet nie bestuur as jy hierdie medikasie gebruik.

Francois ·

Net soos met dronkbestuur (en ek bedoel hiermee regtig dronk) is daar ook mense op die pad wat oormoeg is en nie ten volle hulle aandag op die gevestig hou nie. Hulle is net so ‘n groot gevaar maar daar is geen wetgewing teenoor die situasie nie.
Meeste mense wat gereeld alkohol gebruik kan binne perke ‘n drankie of twee geniet sonder enige afname in hul vermoë om korrek en veilig te bestuur.

AndréS ·

As die bestaande wetgewing net toegepas word sal dinge aansienlik verander. Dit help nie om aan te hou wetgewing skep en dit word nie toegepas nie!

Genis ·

Hierdie is weer n money making idee… Hoe op met korrupsie, doen regte lisensie toets evalueering, en beheer Taxi’s en trokke… Sonder om lellik te wees ou CR se “our people” kan maar net nie bestuur nie.. Wetteloosheid lei to pad ongelukke..

Chris dupreez ·

Ek sal ses biere drink en nog steeds minder twak kwytraak as min. Mbalule wat geen bier gedrink het nie.

Persheks Adri ·

Ek wens die mense kry dit in hulle koppe in om nie te ry en te bestuur nie! Dis juis deur sulke mense wat ons nie drinkers in gevaar stel. Sluit maar toe as hulle drink en bestuur klaar.

Dis juis oor ‘n dronk trok bestuurder dat ek op 22 al ‘n rug operasie gehad het en ‘n paar jaar later ‘n nek operasie… Daai man het my hele lewe verwoes

Francois ·

Persheks, ek verstaan al te goed dat daar dronk mense op die pad is en soveel tragedies veroorsaak, insluitende wat met jou gebeur het. Maar as ek na ‘n restaurant toe gaan en ‘n bier of ‘n glas wyn saam met my ete geniet is ek hoegenaamd nie onbevoeg om te bestuur nie. Doen dit al my hele lewe lank.
Sou die alkoholvlak na 0% verander word gaan al die eetplekke verder skade ly aangesien daar baie getroude pare is wat saam ‘n drankie geniet gedurende ete.
Ek is in die gelukkige posisie aangesien my vrou glad nie drink nie en ek het altyd ‘n aangewese bestuurder.

Vrystater ·

Vir drank kan hulle nog toets, maar nie vir dagga nie. En dagga se wettiging vermenigvuldig die gevaar op die pad.

Boerkind ·

GEEN alkohol in jou gestel as jy agter ‘n voertuig se stuur is nie! PUNT!! Mag ‘n busbestuurder ook ‘n paar doppies drink voor hy/sy met ‘n klomp passasiers weg trek? Vlieëniers?? Aikona!

Persheks Adri ·

Die taxi’s mag seker weer Plaaskind eish jy weet mos daar is dubbel standaarde vir ons en hulle pffft

JohanR ·

As dit verhoed dat iemand in ‘n Pa, Ma, en die kinders, drie dogters en ‘n seun reg van voor was jaag omdat hy/sy stuk dronk is en aan die verkeerde kant van die pad is dan is ek vir die plan. Ek drink al lankal by ‘n braai baie matig, en sal saam met iemand anders huis toe ry of my kar sleutels vir iemand gee om my huis toe te vat. Ek het al op ‘n braai byeenkoms gesien hoe iemand agt biere sink, en seker daar is manne wat 12-15 biere kan sink, en dan agter die wiel inskyf. Ek het al ‘n paar mal dronk bestuur….die wereld skiet hier al alle kante verby, en daai petrol pedaal word net dieper ingetrap. Dit is as of alles om jou nie waar is nie…..unrealistic in Engels.

Snuffelgids ·

27% van ongelukke word deur dronkbestuurders veroorsaak. So 73% word deur nugter mense veroorsaak! Die wetgewing is soos om n pleister op die Titanic te wil plak, kom aan, kry n beter oplossing.

Misky ·

Maak `n plan met die taxis, monitor hulle en 80% minder padongelukke

Sênet ·

Miskien moet meer met die mense wat nie onder die invloed van drank bestuur nie gepraat word. Hulle mag dalk verbaas wees oor wat hulle mag ontdek

Sênet ·

Miskien moet die wet eerder sê dat as jy iemand se dood veroorsaak het omdat jy onder die invloed van drank bestuur het, sal jy van nou af moet sorg vir die mense wie se lewens jy verwoes het. So as jy verantwoordelik is vir wat gebeur het, moet jy omsien na die mense wat met die gevolge van jou besluit moet saamleef?

Chantel ·

Ek stem saam met die AAA, dis ‘n klein % van dronkbestuurder, daar is veel meer motorbestuurders wat net eenvoudig die reëls van die pad verontagsaam en ongelukkig is dit nie net die taxi bestuurders nie. Ek kyk sommer net na die bestuurders op ons klein dorpie en dit gaan my verstand te bowe dat mense net eenvoudig geen respek het vir die reëls nie. Ry oor stopstrate en oor rooiligte. Ek verloor dit elke oggend oppad skooltoe

Francois ·

Hou n slag die padblokkades naby die kroeë, restaurante en shebeens. Gebruik ook ‘n toegewyde span SAPS waar moontlik, aangesien baie van die eienaars van kuierplekke vriende is met die plaaslike polisie, en dan vooraf waarskuwings kry van beplande padblokkades.

Pieter Rubeus ·

Ek het dit ook baie duidelik gemaak in my vertoë teen die instelling van die wetlike vereistes. Wat baie mense nie besef nie is dat asma lyers en persone wat medisyne gebruik alcohol verbruik wys. Drank is ‘n probleem maar die grootste probleem is die feit dat daar min tot geen optrede is teen roekelose en onbeholpe drywers is nie en dat polisiëring nog altyd die probleem is.

Hans ·

Die beste is dat hulle ons altyd met”ander lande” wil vergelyk. In daardie lande is daar n bekostigbare struktuur van publieke vervoer wat nie deur n taxi assosiasie beheer word nie, en deur almal gebruik word. As daar so iets in plek was, sou ons ook meer van publieke vervoer gebruik kon maak

Marina ·

Dit mag help, maar as ‘n mens kyk hoe roekeloos mense bestuur, spoed, verskeersligte, stoptekens, ens verontagsaam wonder ek. vir sekere mense geld padreels glad nie, dit is ook ‘n baie groot probleem.

Nico ·

Waar is die verkeersbeamptes sit in die kantoor, die beste is verbied die gebruik van alkohol heeltemal.

Ansie ·

Dronkbestuurders steur hulle nie aan die wet nie. Dit het nie ‘n verskil gemaak aan die verlaging van die bloedalkoholvlak nie, dit sal ook nie verskil maak as dit 0 word nie. Wetstoepassing moet opgeskerp word omdat mense nie vertrou kan word om die wet na te kom nie.

Regverdigheid ·

Stem dronk bestuur …hoeveel dood is op ons paaie oor dit ….bly tuis en drink dan.

Villiers ·

Hou die huidige perk van 0.05% . Pas dit net toe.
Ongelukinsidensie studies wat gedoen is toon dat die ongeluksyfer eers by 0.08% begin toeneem en daarna skerp styg. Daar is ook bevind dat tot op 0.05% meeste mense geen kliniese afwykings toon nie en as nugter beskou word
Hou ook in gedagte dat alkohol in voedsel en dranke voorkom agv gistingsprosesse en gebruik word in voorbereiding van kos
Alkohol word ook dikwels gebruik in die voorbereiding medikasie hetsy as voorgeskryf of in sg Hollandse medikasie en kan ook deur die longe geabsorbeer word indien hoe konsentrasies van alkohol teenwoordig in lug is
Met dit in gedagte kan die 0.0% onbedoelde gevolge he deur basies onskuldige mense tot kriminele verander en die huidige sisteem oorweldig sonder dat die werklike oortreders vasgetrek word
Openbare vervoer veral in die platteland laat ook veel te wense oor soos in ander lande met strenger beperkings
Bronne : DIE ABC VAN GEREGTELIKE GENEESKUNDE deur TG Schwar.JD Loubser. JA Olivier

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.