100 myl, 27 uur: Diabeet wil Drakensberg kafdraf

Le Roux het dié roete verlede jaar in 33 uur voltooi en ʼn algehele vyfde plek behaal. (Foto: Jono le Roux/Instagram)

Jono le Roux (34) mag dalk ʼn diabeet wees, maar hy is ook ʼn kranige atleet van KwaZulu-Natal wat wil bewys dat dié siektetoestand op geen manier in sy pad staan nie. Le Roux beoog om die Ultra-Trail Drakensberg – ʼn taai velddrafsessie van 100 myl (sowat 160 km) – binne 27 uur af te lê.

Dit sal die tweede keer wees dat Le Roux dié uitdagende wedloop aanpak. Die wedloop begin by die Sani Pass Pub in Lesotho en eindig op die plaas Glencairn by Underberg in KwaZulu-Natal.

Le Roux het dié roete verlede jaar in 33 uur voltooi en ʼn algehele vyfde plek behaal.

Hoewel vanjaar se roete met veranderinge nuwe struikelblokke inhou, hoop Le Roux om sy vorige tyd met ses uur te verbeter en die roete in 27 uur kaf te draf.

“Ek het sedert verlede jaar as ʼn hardloper gegroei, in ervaring en volwassenheid. Terwyl ek mik om die wedloop in 27 uur te voltooi is my uiteindelike strewe om volhoubaar te hardloop en om ander langs die pad te inspireer,” sê Le Roux.

Le Roux hoop om sy vorige tyd met ses uur te verbeter en die roete in 27 uur kaf te draf. (Foto: verskaf)

Le Roux se drafbelangstelling kom al sedert 2015. In 2017 tipe 1-diabetes by hom gediagnoseer en dit het ʼn selfs dieper verbintenis tot gesondheid en fiksheid by hom laat ontstaan.

Hy meen dat draf hom nie net ʼn gesonder en sterker liggaam gee nie, maar hom ook geestelike lewenslesse leer.

“Dit is meer as net ʼn sport vir my, dit is my manier van leef.”

Om tipe 1-diabetes te bestuur terwyl jy aan uithousport soos ʼn ultramarathon deelneem, vereis noukeurige monitering van glukosevlakke, voeding en tempo. Voorheen het Le Roux gereeld tydens die wedloop gestop om sy glukosevlakke na te gaan, maar weens ʼn nuwe toestel genaamd die FreeStyle Libre Continuous Glucose-moniteringstelsel (CGM) kan hy nou in die hardloop sy glukosevlakke monitor.

Le Roux se storie gaan nie net oor persoonlike triomf nie, maar is ook ʼn bewys van die vooruitgang in diabetessorg en -tegnologie.

“Met groot verbeterings in diabetessorg, van insulienopgraderings tot bestuurstelsels en ongelooflike tegnologie soos deurlopende glukosemonitors, kan mense wat met tipe 1-diabetes leef, vryer wees en, durf ek sê, ‘normaal’ leef,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.