14 jaar tronkstraf vir Skukuza-stroper

Elphas Xidzinga (Foto verskaf deur die NVG)

Elphas Xidzinga (28) is in die Skukuza-streekhof 14 jaar tronkstraf opgelê vir stroopverwante oortredings. Die hof het die beskuldigde ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

“Die vonnis kom ná die beskuldigde skuld beken het op die aanklagte,” sê Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag.

Xidzinga, Jaftha Xidzinga en Mavis Chauke wou op 19 November 2015 die Krugerwildtuin betree onder voorwendsel dat hulle toeriste is. Hulle wou van die Numbi-hek gebruik maak.

Toe wildbewaarders egter Elphas se voertuig deursoek, het hulle op ʼn jaggeweer afgekom waarvan die reeksnommer afgevyl is. Die vuurwapen was onder ʼn sitplek versteek.

Die drie persone is in hegtenis geneem.

Jaftha, Elphas se broer, is vrygelaat op borgtog en hy het intussen spoorloos verdwyn. Die saak teen Chauke, wat skuld ontken het, is uitgestel tot 8 Februarie 2024 vir ʼn saak in dieselfde hof.

Lot Mgiba, staatsaanklaer, het ter verswaring van vonnisoplegging ʼn ballistiese verslag aan die hof voorgehou wat bevestig dat die vuurwapen in die beskuldigde se besit ʼn .375-jaggeweer was.

“Die NVG bly daartoe verbind om stroopverwante sake te vervolg om ʼn einde te bring aan renosterstropery.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KB ·

Ag en ou squirrel gaan hom ook seker begenadig…hel ons het ʼn vrot regsstelsel en regering!

Johann ·

Lees ek reg? 2015??????? En borgtog???? Nee wat. Mens en dier in die hool is niks werd nie.

Casper ·

Beide die ander 2 beskuldigdes is buitelandse burgers en gaan nie maklik opgespoor word nie.

ES ·

Die man in die foto kan sweerlik nie 28 wees nie… daar is ‘n paar dekades verskil.

electricmango ·

Onskuldig tot skuldig bewys. Wat is nou die issue om met n jag geweer waarvan die serial nommer afgevyl is by die wildtuin in te gaan. Mens kan mos sien dat dit finansieel nie goed gaan met Elphas nie en hy wou maar net kos op die tafel sit.

Shakespeare ·

Is daar n graad van totale onbevoegdheid wat laer is as moronies is, want dit sal die vlak wees waarop die ANC gemeet kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.