14 onderskeidings vir slimkop neef en niggie

Keenan Clark en Tasha Jacobs het beide sewe onderskeidings tydens die matriekeksamen verwerf. (Foto: Verskaf)

ʼn Neef en niggie van Centurion het elk sewe onderskeidings in die afgelope matriekeksamen ingepalm. Keenan Clark en Tasha Jacobs, albei hoofseun en ‑meisie van hul onderskeie skole, wil boonop al twee hierdie jaar medies gaan studeer.

Clark (18) het die Onafhanklike Eksamenraad se matriekeksamen aan Cornwall Hill College in Centurion afgelê. Hy sê hoewel hy en sy niggie nie saam vir die eksamen voorberei of beplan het om dieselfde rigting te studeer nie, is dit nie vir hom verbasend dat dit so uitgewerk het nie.

“Ons is baie dieselfde. Ons dink en voel dieselfde oor dinge.”

Dié twee is baie na aan mekaar en Jacobs (18), wat aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion gematrikuleer het, sê Clark is meer soos ʼn broer vir haar as ʼn neef. Albei van hulle was aangenaam verras toe hulle sewe onderskeidings verwerf.

Keenan Clark was hoofseun van Cornwall Hill College in Centurion. (Foto: Verskaf)

Clarks het Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Lewenswetenskappe en Geskiedenis as keusevakke gehad. “Ek het aanvanklik Rekeningkunde in plaas van Geskiedenis geneem, maar ek het so ʼn liefde vir geskiedenis dat ek net eenvoudig nie uit die klas kon bly nie,” sê hy oor dié buitengewone keuse.

Jacobs het Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Rekeningkunde en Drama geneem. “Ek neem al Drama vandat ek in gr. 2 is, toe die onderwyser vir my gesê het my klaspraatjie is baie goed geskryf, maar ek moet meer selfvertroue kry om voor mense te praat. Drama het my baie daarmee gehelp en ek sal dit vir enigiemand aanbeveel.”

Haar en Clark se eintlike passie is egter om met mense te werk en hulle te help, daarom dat hulle medies wil gaan studeer, al is niemand in die familie dokters nie. Jacobs begin vanjaar haar studies aan die Universiteit van Kaapstad en Clark is op die waglys om by die Universiteit van die Witwatersrand te studeer.

Tasha Jacobs was hoofmeisie van die Hoërskool Zwartkop in Centurion. (Foto: Verskaf)

Clark sê sy motivering om hard te werk en te presteer, was sy ouers. “Hulle het ontsettend baie vir my opgeoffer en ek wil hulle graag trots maak.” Jacobs word weer gedryf deur doelwitte vir haarself te stel. “Die eerste dag van my gr. 8-jaar het die skool die vorige jaar se matrieks vir hulle akademiese prestasies vereer. Ek het toe al besluit dat ek ook daar voor wil staan wanneer ek eendag matriek vang.”

Vyf jaar later is haar droom bewaarheid.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.