15 sterf in ongeluk naby Middelburg

(Argieffoto: Pixabay)

Vyftien mense is in ʼn ongeluk naby Aberdeen in die Oos-Kaap dood toe ʼn vragmotorbestuurder glo vir ʼn rondloperdier uitgeswaai het.

Volgens Unathi Binqose, woordvoerder van die departement van vervoer in die Oos-Kaap, het die ongeluk Sondag omstreeks 23:00 op die N9 naby Middelburg plaasgevind.

“Die bestuurder van ʼn vragmotor het beheer oor die voertuig verloor nadat hy ʼn rondloperdier getref het. In ʼn poging om weer beheer oor die voertuig te kry, het die sleepwa omgeslaan,” sê Binqose.

“ʼn Taxi wat in die teenoorgestelde rigting gery het, het presies in hierdie stadium met die sleepwa gebots.”

Volgens Binqose is al die insittendes van die minibustaxi, ook die bestuurder, op die toneel dood.

“ʼn Twee maande oue baba en ʼn kleuter is ook onder die slagoffers. Die vragmotorbestuurder het ligte beserings opgedoen.”

Die taxi was van die Oos-Kaap na die Wes-Kaap onderweg.

“Die slagoffers se name kan eers bekend gemaak word sodra hul naasbestaandes in kennis gestel is,” sê Binqose.

ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Danie ·

Baie Tragies.
In ons omgewing het een van die besigheidsmense hom goed gewip vir al die rondloper diere wat skade en dood veroorsaak het. Nooit is daar enige iemand wat enige diere opeis of enige skade betaal nie. Hy ry toe een slag en laai al die rondloper diere op en skut hulle op ‘n hoewe buite die dorp. Hy het dit oop en bloot gedoen, wat hy is ‘n man met ‘n plan. Natuurlik daag ‘n hele paar eienaars met prokureur(s) en al by hom op en kom eis hulle “eiendom” op. Nadat die dagvaardiging aan hom beteken is deel hy die ouens mee dat hy dit aan sy prokureur gaan oorhandig. Want al die eienaars se besonderhede is mos op die dagvaardiging. Met die opdrag om dit onmiddellik met enige prokureur te deel sou daar enige ongeluk (hetsy besering(s) of dood) wees waarin rondloper diere betrokke is. Sover ek weet het die saak nie in die hof geëindig nie, en is daar geskik. En wonderbaarlik is daar nie meer iets (of baie selde) soos onbewaakte rondloper diere in ons omgewing nie.

Miena ·

Nou verstaan ek nie – Ek hoor nou net op die FM dat die ongeluk op N9 buite Middleburg EC gebeur het. Nou berig die artikel anders – Aberdeen. Kan ons verslaggewers en joernaliste en radio-omroepers en die hele media asb hulle storie eens kry en die regte plek en gebeure voorle? Ek woon in GP en my man werk in Mdlbrg EC op konstruksie en daardie paaie is snags vol diere soos hulle die hitte van die paaie opsoek snags.

Liza Joubert ·

Dagsê Miena
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Liza
nms Maroela Media

Ian ·

Tragies. Vragmotrs moet net na sonop en tot en met sononder op alle paaie beweeg.

otter ·

en as daar n ongeluk is in die aand dan wil jy he hulle moet in die dag ry…. almal het ewe reg op die pad so moenie kom nonsens blaf nie.

SwartBees ·

Hier is n beter oplossing: Bring spoor vervoer terug en verban ALLE trokke van die paaie af.

Windhond ·

Dis hoe dit was gedurende die jare – op tot met die middel van 80’s – toe moes privaat vervoer, permitte gehad het -die Spoorwee het bykans alles per spoor vervoer

Delia ·

Nee Ian, wetstoepassing moet verbeter en vragmotoreienaars moet spoedbeperkingmeganismes installeer. Die vragmotors ry hopeloos te vinnig.

Koos 100 ·

Delia, jy is in een opsig reg. Wetstoepassing sal ook dje spoed uitsorteer.

Byekonfyt ·

Baie N-paaie in die Oos-Kaap is vol rondloper diere. Bokke, beeste en varke wei teen die pad en kruis dit dag en nag. Dit veroorsaak lewensgevaarlike ongelukke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.