18 beseer toe klaskamer se dak inval

Umthambeka Primary School

Altesaam 18 laerskoolleerders is beseer toe die dak van ʼn klaskamer in Tembisa ingeval het.

Volgens inligting wat deur die departement van onderwys verskaf is, was die leerders in die klas toe die dak van die Umthambeka Primary School inmekaar gesak en op die leerders geval het. Die beseerde leerders is onmiddellik na ʼn hospitaal gehaas. Teen Dinsdagmiddag is almal behalwe twee leerders reeds ontslaan.

“Die oorsaak van die voorval is nog nie bekend nie en ons het ʼn ondersoek na die omstandighede rakende die gebeurtenis van stapel gestuur,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, het gesê hy is “diep bekommerd” oor wat gebeur het.

“Dit is jammer dat ons kinders op so ʼn wyse by ʼn skool seergekry het. Ons hoop al die beseerde leerders herstel vinnig. Ons doen ook ʼn beroep op lede van skolebeheerliggame om altyd op die uitkyk te wees vir uitdagings met betrekking tot hul skool se infrastruktuur en dit by die departement aan te meld.”

Geluksdal Secondary School in Brakpan moes die departement in 2022 hof toe sleep, om te verseker die departement herstel gebrekkige veiligheidsinfrastruktuur by die skool. ʼn Matriekleerder is in Januarie 2017 by die skool doodgeskok, nadat die departement versuim het om stroombrekers en ander toerusting wat by die skool gesteel is te vervang.

Verdere inligting oor Dinsdag se voorval sal nou van die skool se beheerliggaam, asook die skoolbestuur ingewin word.

Posted by Chester Saaiman Bafana Mdluli on Tuesday, February 27, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Hmm ja, die “Departement” ‘worry’ oor goed soos onderrig-taal afdwing by skole (deur die Bela-wet), maar kan nie eens infrastruktuur onderhou nie. Tipies ANC-regering, doen alles gatoorkopholonderstebo.

es ·

Soos alles in SA sekerlik GEEN instandhouding gedoen nie. Arme kinders

domheks ·

INSTANDHOUDING!!!!
Kaders moet gaan leer wat die ou woordjie beteken. Haal geld uit en herstel! Nie vir die sak bedoel.

Di ·

Die ANC moet aanspreeklik gehou word hiervoor. GEEN instandhouding nie, alles word net gespoeg en plak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.