Oorwinning vir skool met swak infrastruktuur

‘n Skool in Xhorha in die Oos-Kaap. Section27 sê onveilige skoolinfrastruktuur was al die oorsaak van te veel beserings en sterftes van leerders. (Argieffoto: Groundup/Manqulo Nyakombi)

Die Gautengse departement van onderwys het 15 dae om aan die Johannesburgse hooggeregshof te wys watter stappe hy gaan doen om elektriese toerusting en veiligheidsinfrastruktuur by die Geluksdal Secondary School in Brakpan op te gradeer.

ʼn Matriekleerder is in Januarie 2017 by die skool doodgeskok nadat die departement versuim het om stroombrekers en ander toerusting wat by die skool gesteel is te vervang, sê die drukgroep Section27.

Die leerder is doodgeskok nadat hy tydens ʼn donderstorm aan die deurkosyn van ʼn mobiele klaskamer geraak het.

Vyf jaar later het die departement steeds niks gedoen om die onveilige infrastruktuur te herstel of eens ʼn woord gerep oor planne om dit te doen nie.

Die departement het ook nie eens gereageer op die hofsaak nie, maar word nou deur die hofbevel tot optrede gedwing.

“Terwyl die traagheid voortduur loop leerders steeds die gevaar om by die skool beseer te word of te sterf. Die bevel is belangrik omdat dit die Gautengse onderwysdepartement dwing om dringend die onveilige infrastruktuur te herstel en terugvoer te gee oor die vordering wat met die infrastruktuurprobleme gemaak is.”

Die familie van die oorledene het die hof genader om te verseker dat die stukkende toerusting herstel, vervang en veilig gemaak word, en om te verseker dat ʼn tragedie soos dié nooit weer gebeur nie. Section27 het as ʼn vriend van die hof betrokke geraak en veral inligting verskaf oor die geskiedenis van onveilige infrastruktuur by skole, asook die verantwoordelikheid van amptenare om leerders se veiligheid te verseker.

Section27 was al betrokke by verskeie sake waar leerders beseer is of gesterf het omdat skole onveilig was.

Die voorlopige hofbevel bepaal onder meer dat die onveilige elektriese toerusting vervang moet word, dat amptenare berispe moet word wat nie die leerder se dood aangemeld het nie, en dat veiligheid by die skool verbeter moet word om die diefstal van elektriese toerusting te verhoed. Die hof het ook gelas dat amptenare wat versuim het om stappe te doen oor die onveilige toerusting gedissiplineer moet word.

Die organisasie sê nadat toerusting by skool gesteel en by distrik- en provinsiale amptenare aangemeld is, het niemand ʼn vinger verroer nie.

“Die hofbevel skep ʼn belangrike presedent oor die aanspreeklikheid van onderwysamptenare om te verseker skoolinfrastruktuur is veilig.”

Section27 sê onderwysowerhede, en veral LUR Panyaza Lesufi, moet nou verseker die stukkende infrastruktuur word onverwyld herstel. Die organisasie sê dit is noodsaaklik dat onderwysowerhede hul grondwetlike plig nakom om te verseker dat skole veilig en optimale sentrums van onderrig is.

“Onveilige skoolinfrastruktuur was al die oorsaak van te veel beserings en sterftes van leerders terwyl hulle by die skool is,” sê die organisasie.

Geluksdal Secondary School is nie die enigste skool wat steier weens vrot instandhouding nie.

Maroela Media het ook vroeër berig ʼn gedeelte van die Arcadia Secondary School in Gqeberha (Port Elizabeth) moes gesluit word omdat 13 van die 27 klaskamers so vervalle was dat dit te onveilig vir gebruik was.

Duiwe, rotte en insekte floreer, terwyl die vensters en plafonne stukkend bly. (Foto: Mkhuseli Sizani/GroundUp)

Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het die skool in Mei 2019 besoek en toe al onderneem dat die vervalle klaskamers herstel sal word, maar van die beloftes het niks gekom nie. Duiwe, rotte en insekte floreer intussen by die skool, terwyl die vensters en plafonne stukkend bly.

En drie jaar ná die tragedie by die Hoërskool Driehoek wat die lewe van vier Gautengse leerders geëis het toe ʼn betonblok van die skool se loopbrug ineengestort het, heers daar steeds groot kommer oor die strukturele veiligheid by Gautengse skole. Daar is ná die tragedie geskarrel om aandag aan infrastruktuurprobleme te gee.

Dit blyk egter nou dat die oorsig oor skole se strukturele veiligheid nie voorkeur oor die afgelope drie jaar geniet het nie en dalk weer eens ná gebrekkige inspeksies verval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

ou lesoefieeee jy is te besig met rassisme om jou werk te doen????

Julius ·

Om ‘n stroombreuker van een miljoen rand te vervang moet jy eers ‘n korupte tender losslaan.

Marius ·

Die hele land val uitmekaar weens geen instandhouding. Dit is die anc se nalatenskap.

Mariana ·

Skreiende skande dat leerders en onderwysers in sulke gevaarlike omstandighede moet skoolgaan. Die departement moet aanspreeklik gehou word vir elke besering. Dit is verregaande dat hulle versuim om bloot hul werk te doen. Behoort afgedank te word en hul werk behoort vir mense met inbors en opregte belangstelling in skole en hulle leerders gegee te word. Te veel belangrike poste word vir stoelsitters en vermorsers van geld gegee. Kaders wat nie hul werk doen nie maar tog ‘n groot salaris verdien

Rooikopheks ·

Skole word afgebreek, geplunder, skool banke en stoele word gebreek en as daar niks meer oorbly nie is dit die departement se probleem? Buiten die ander werklike struktuur probleme waaraan geen aandag gegee word nie gaan alles net tot niet.

Pietertjie ·

Westerse standaarde wil maar net nie vastrapplek kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.