200 mm in een dag vir dele van KZN

Groot skade is aan huise, paaie en ander infrastruktuur aangerig. (Foto: SA emergency reports/Twitter)

Swaar reën het die afgelope naweek verwoesting in KwaZulu-Natal veroorsaak, met dele wat oornag meer as 200 mm reën gekry het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se reënverslag het daar Sondag altesaam 241 mm reën in 24 uur in die Mount Edgecombe-gebied geval, gevolg deur 202 mm in Virginia, 152 mm in Pennington-suid, 68 mm in Cedara, 55 mm in Pongola en 51 mm in Greytown.

Die weerdiens het Maandag minder reën vir die provinsie voorspel. Droër en warmer toestande word vir die meeste dele van die provinsie voorspel, hoewel Richardsbaai nog reën kan verwag.

Maroela Media het vroeër berig minstens 500 mense moes hul huise noodgedwonge verlaat nadat swaar reën weer groot skade aan sommige huise, geboue en paaie aangerig het.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het Maandag bevestig dat die eerste sterfgeval weens die naweek se vloede aangemeld is. Die persoon is in die rivier naby Inanda gevind.

Teen Maandag was “alles weer terug na normaal” nadat talle paaie die naweek weens oorstromings en modderstortings onbegaanbaar was. Op sommige plekke het bome omgeval en paaie versper. Die meeste noodontruimings in Umdloti is reeds Sondag afgehandel.

Die gesamentlike as hoc-komitee oor vloedrampverligting en -herstel het Maandag die vloedgeteisterde gebiede in KwaZulu-Natal besoek om die skade van die vloede vas te stel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.