20c van elke rand wat die regering bestee, word geleen

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Minister Tito Mboweni moet besteding verminder en nie belasting verhoog nie. Dit is die vereiste vir ’n regering wat tans 20c leen vir elke rand wat hy bestee, soos Sakeliga se jongste kwartaalverslag toon.

Só sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, in afwagting van die 2020-begrotingsrede op 26 Februarie en gegrond op Sakeliga se jongste kwartaallikse Ekonomiese Oorsig vir Besluitnemers in die Sakewêreld. Die verslag, wat in samewerking met ETM Macro Advisors opgestel is, toon ’n opvallende verswakking in die aanwysers van stres op die begroting sedert die middel van 2018.

Die verslag van vyf bladsye bied ’n padkaart vir sakelui en ekonome, met ’n oorsig van die vernaamste ekonomiese barometers. Dit dui tans op moeilike toestande vir sake en werkverskaffing. Die regering se fiskale stres word as die vernaamste risiko vir sake beskou.

Presidensiële Beleidstelkaart

Die verslag bied ook ’n nuwe aanwyser wat die Presidensiële Beleidstelkaart vir Suid-Afrika genoem word, waardeur Sakeliga die werklike prestasie van opeenvolgende regeringsadministrasies toon volgens objektiewe uitkomste pleks van uitlatings en ondernemings oor hervorming.

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, verduidelik: “Beloofde ekonomiese beleidshervorming onder die Ramaphosa-administrasie vorder baie stadig. Die administrasie kry 30 uit 100 vir die impak van hervormingspogings op werklike ekonomiese uitkomste soos arbeidsmarktoestande, belegging, sterkte van die rand, energieproduksie, die aandelemark en effekteopbrengste.”

Ander insigte in die verslag sluit in ses aanbevelings vir korporatiewe strategie asook ontledings en grafieke van plaaslike en internasionale makro-ekonomiese toestande.
Lees die volledige verslag hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

henndrik ·

Ek het net hierdie gevoel in my ons gaan geroer word want kostes sny is nie in die ANC woordeskat nie

Elize ·

Ja hierdie kaders gaan ons looi hoor. Hulle kan nie dit in die kop kry dat enige koei ophou melk gee as daar nie ordentlik na haar gekyk word nie. Dink ons is besig om droog te word want moet net hoes vir hierdie groot kokkedore wat dink hulle kan ‘n land bestuur. Ag laat ek myself sommer nou reghelp – hulle kan die land bestuur – TOT IN DIE AFGROND IN JA!

Belinda ·

O jinne, nee moenie so vergelyk nie, hulle sal dink, ag 20c dit is niks, daar sal nie besef word, die einste 20c moet met miljarde vermenigvuldig word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.