250 dakloos na 45 hutte by Plastic View brand

(Foto: Verskaf)

Altesaam 45 informele strukture het vroeg Saterdagoggend vlamgevat en 250 inwoners dakloos gelaat. Geen sterftes of ernstige beserings is tydens die voorval aangemeld nie.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddiens, sê lede van die nooddiens het vroeg Saterdagoggend op ʼn brandvoorval gereageer waar 45 hutte by die Plastic View- informele nedersetting aan die brand geslaan het.

Mabaso sê een pasiënt het behandeling vir inaseming van rook en matige beserings ontvang, waarna sy na die hospitaal vir verdere behandeling geneem is.

“Drie mense het matige beserings opgedoen en is op die toneel daarvoor behandel; hulle het egter geweier om na ʼn mediese fasiliteit vir verdere behandeling te gaan,” sê Mabaso.

Sowat 250 mense het hul skuiling en persoonlike besittings weens die brand verloor.

“Nooddienspersoneel is net ná 04:30 na die toneel ontbied. Hulle het met hul aankoms op die toneel verskeie brandende hutte aangetref en dadelik met brandbestryding begin. Die brand is later onder bedwang gebring en daarna geblus.”

Mabaso sê die Tshwane-nooddiensdepartement sal as deel van deurlopende voorligting oor brandveiligheid en risikovermindering aan die gemeenskap, openbare bewusmakingsveldtogte by hierdie informele nedersetting verskerp.

“Die departement doen ʼn beroep op inwoners om paraffienstowe uiters versigtig te gebruik, nooit oop vure sonder volwasse toesig of sonder toesig te los nie en om nooit elektriese proppe met toestelle te oorlaai nie.

“Onwettige aansluitings van elektrisiteit is ʼn brand- en lewensgevaar wat tot noodgevalle kan lei en inwoners moet altyd hiervan bewus wees,” sê Mabaso.

Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.