27 debute op vanjaar se KKNK te sien

Coenie de Villiers, Deon Meyer, Anrich Herbst, Nelandi Boshoff en Eldon van der Merwe tydens die bekendstelling van die KKNK-feesprogram vir 2024. (Foto: Natalie Gabriels Photography)

Altesaam 27 teater- en musiekproduksies maak vanjaar hul debuut op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn.

Die feesprogram vir die 28ste jaarlikse KKNK is Woensdagaand tydens ʼn spoggeleentheid by die Leopard’s Leap-wynlandgoed in Franschhoek bekend gestel.

Die program bied vanjaar ʼn legio teater- en musiekdebuutproduksies, komedieprogramme, jeugteaterproduksies, indiepte-gespreksreekse en boekgesprekke aan.

Dit vind tydens die skoolvakansie in Maart, vanaf Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart, op Oudtshoorn plaas en eindig oor die Paasnaweek.

Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is reeds by Webtickets, of die KKNK se kantoor op Oudtshoorn beskikbaar. Kaartjies wat vooraf gekoop word, is goedkoper as kaartjies wat tydens die KKNK by die deure of hekke gekoop word. Vir verblyfbesprekings, besoek die KKNK se webblad.

“Dit is ʼn wegbreekkans vir die hele gesin met ʼn program vir elkeen se smaak,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.

“Afgesien van uitstaande drama, komedie, dans en visuele kuns, is daar ook leefstyl-ervarings en gespreksreekse wat sorg vir heerlike kuier en polemiek. Die fees bied hope gratis en goedkoop vermaak, nie net in meer formele venues nie, maar ook in die strate van Oudtshoorn. Dis jou gesondheidskliniek vir algehele welstand!”

Volgens John Tshabalala, uitvoerende hoof van Absa Private Wealth, is hulle verheug oor hul voortgesette vennootskap as hoofborg van die 28ste jaarlikse KKNK, ʼn jare lange viering van kuns en kultuur op Oudtshoorn.

“Ons ondersteun reeds dekades lank met trots hierdie geleentheid en is verheug om ons onwrikbare verbintenis tot die bevordering van die kunste in die dinamiese gemeenskap van Oudtshoorn te koester.

“Terwyl ons bymekaarkom om kreatiwiteit en kulturele rykdom te vier, vier ons ook die asemrowende natuurskoon en verkwikkende vars Karoolug. Ons deurlopende ondersteuning is ʼn bewys van ons vertroue in die transformerende krag van die kunste en ons toewyding om die unieke gees van hierdie merkwaardige streek te bewaar.”

Feesaanbod

Kabous Meiring en Dean John Smith tydens die bekendstelling van vanjaar se KKNK-feesprogram. (Foto: Natalie Gabriels Photography)

Jana Cilliers deel in die drama Veelhoek – een van 27 feesdebute op die program – die verhoog met Ludwig Binge, onder regie van Marthinus Basson. Cilliers het ook die teks geskryf. Sandra Prinsloo en David Viviers is te sien in Henque Heymans se satire Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan.

Prinsloo speel ook die hoofrol as Maria Callas in die bekroonde produksie van Terrence McNally se Master Class. Antoinette Kellermann en André Roothman is op die verhoog in Die stoele, ʼn klassieke tragi-klug deur Eugène Ionesco, met regie, ontwerp en vertaling deur Basson.

Vyf kunstenaars word vanjaar deur die KKNK vereer: Deon Meyer met die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir literêre bydrae, Jana Cilliers met die KKNK-prys vir vertolking, Eldon van der Merwe met die KKNK-prys vir Jong Stem, Poem Mooney met die KKNK-prys vir Lewensbydrae tot Kuns en Kultuur en die visuele kunstenaar Colbert Mashile as Feeskunstenaar.

Die Feesmark is die hartklop van die fees en hier kan feesgangers ure lank wandel deur dié inkopieparadys se stalletjies. Die KKNK-winkel swaai sy deur oop in ʼn nuwe gebied met meer en mooier aandenkings as verlede jaar. Smul aan die buffet van kos by die kosstalletjies. Proe deli-produkte, lekkernye en drinkgoed. Koel af by die kroeë op die terrein. Span uit en geniet die aanbod deur die dag en saans in die lugverkoelde Absa Kuierkamer, waaronder insiggewende gesprekke met bekendes. En raak ontslae van daardie laaste bietjie energie by die pretpark. Checkers bied vanjaar spesiale ervarings in die Feesmark aan, met verskeie verrassings wat op feesgangers wag.

Karoo Kaarte, die KKNK se veelbekroonde en grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram wat sedert 2021 op Oudtshoorn gestalte kry, betrek in 2024 elke Oudtshoorniet se storie en bied allerlei ervaringe dwarsdeur die fees en oor die dorp heen aan.

Karoo Kaarte word vanjaar aangebied met die ondersteuning van die Jannie Mouton-stigting, ATKV, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, die Wes-Kaapse regering en die Oudtshoorn-munisipaliteit.

ʼn Besonderse versameling kunsuitstallings, saamgestel deur kurator Dineke Orton, is in die tuiste van visuele kuns, die Prince Vincent-gebou, te sien. ʼn Uitstalling deur die feeskunstenaar van 2024 en ʼn Absa-uitstalling word onder meer ingesluit.

Verskeie gespreksreekse word in die Netwerk24-feeskafee aangebied, waaronder gesprekke oor brandpunte en belangrike landskwessies, soos die 2024-verkiesing in Die Burger Praat Saam onder leiding van Jody Hendricks.

Die KKNK se Boekstories, onder leiding van Elna van der Merwe, bied daagliks insig in die prosesse en denkwyse van verskeie skrywers.

Meer inligting is beskikbaar op die KKNK se sosiale media, by www.kknk.co.za of kontak 044 203 8600, stuur ʼn e-pos na [email protected] of ʼn WhatsApp na 065 285 2337.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.