28 mense verdrink elke week in SA   

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Linus Nylund / Unsplash)

Altesaam 8 862 mense het tussen 2016 en 2021 in Suid-Afrika verdrink, waarvan die meeste kinders jonger as vier jaar was. Die gemiddelde verdrinkings wat in dié tydperk aangemeld is, is 1 477 mense per jaar.

Statistieke dui verder daarop dat die meeste verdrinkings oor die algemeen dié van swart mense was. Tussen 2016 en 2021 was die hoogste getal verdrinkings van kinders jonger as vier jaar egter dié van wit kinders.

Gevalle van kinders wat verdrink vind boonop dikwels binne drie tot 20 m van hul huise plaas – hoofsaaklik waar geen volwasse toesig was nie.

Dié statistieke is vandeesweek deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in ʼn verslag oor verdrinkings in die land bekendgemaak. Die epidemiologiese studie is deur NSRI en die Departemente van Menslike Biologie en Statistiese Wetenskap aan die Universteit van Kaapstad onderneem, en is op data geskoei wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens verskaf is.

“Verdrinking bly ʼn ernstige openbare gesondheidsrisiko wêreldwyd, en raak hoofsaaklik lae- en middelklasinkomstelande,” lui die verslag.

“Redes wat tot die hoë getal verdrinkings in dié lande bydra, is ʼn tekort aan verdrinkingvoorkomingsinisiatiewe en regulasies, onvoldoende bewusmaking en opvoeding oor waterveiligheid én ʼn tekort aan basiese swemvaardighede.”

Die verslag dui verder aan dat dit belangrik is om verdrinkings volgens etnisiteit te klassifiseer, aangesien dit uiters belangrike inligting verskaf in terme van die risiko’s wat bepaalde groepe in die gesig staar.

Tussen 2016 en 2021 het 2 755 kinders jonger as vier jaar verdrink, gevolg deur 763 kinders tussen vyf en nege, 803 kinders tussen tien en 14, 508 tieners tussen 15 en 19 en 420 jong mense tussen 25 en 29 jaar oud.

Die koers van die verdrinkings by wit kinders jonger as vier was in dié tyd 57 uit elke 100 000 kinders, 41 bruin kinders per 100 000, 36 swart kinders per 100 000 en 27 Indiër-kinders per 100 000.

In die ouderdomsgroep van vyf tot nege was die meeste verdrinkings dié van bruin kinders, en in die tien tot 14 jaar-ouderdomsgroep was dit swart kinders.

Die verslag dui ook aan dat meer seuns/mans as meisie /vroue verdrink het.

Hiér vind die meeste verdrinkings plaas

Die meeste verdrinkings is in KwaZulu-Natal (2 114) aangemeld, gevolg deur die Oos-Kaap, Gauteng en die Wes-Kaap – met onderskeidelik 1 869, 1006 en 864 verdrinkings tussen 2016 en 2021. KwaZulu-Natal is geografies die grootste provinsie met die meeste wateromgewings. Dit het ook die grootste bevolking. Die subtropiese klimaat maak dit boonop moontlik om regdeur die jaar te swem.

Die meeste verdrinkings van kinders jonger as vier is egter in die Noord-Kaap aangemeld – waar volgens die verslag nie baie voorkomingsinisiatiewe wat waterveiligheid betref, is nie.

Die meeste voorvalle is in Januarie en Februarie, wanneer dit warmer is, aangemeld. Luidens die verslag vind verdrinkings meestal oor naweke en veral op Sondae plaas.

Die meerderheid kinders en mense het in dié tydperk in vars water verdrink (3 713) wat kanale, damme, skottels, slote, dongas, dreine, strandmere, reservoirs, riviere, moerasse, stormwaterpype en strome insluit.

Die tweede meeste voorvalle was verdrinkings in swembaddens (676) gevolg deur die see (436).

Minstens 352 gevalle het ook in en om huise plaasgevind, soos baddens, emmers, waterdromme, visdamme, fonteine en toilette.

Luidens die verslag is die gemiddeld van mense wat elke jaar tussen 2016 en 2021 in Suid-Afrika verdrink het, heelwat laer as dié van ander lae- tot middelinkomste lande.

“Nietemin is die syfers steeds kommerwekkend. Die data wat deur die polisie verskaf is, dui boonop net verdrinkings aan waar ʼn liggaam wel opgespoor is.”

Volgens die bevindings in die verslag is die tyd en plek van verdrinkings uiters belangrik sodat geteikende voorkomingsinisitiewe ontwikkel, geïmplementeer en geprioritiseer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Die Vader gee vir jou kinders om na te kyk as jy nie na hulle kyk nie kom haal hy hulle weer ,iets waarin ons voorouers geglo het en toegepas het.

Christine ·

Skokkend hoeveel klein kindertjies verdrink in swembaddens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.