39 skole, 11 000 leerders deur Oos-Kaap-vloede geraak

(Foto: Jared Sacks/Facebook)

Altesaam 39 skole is beskadig en minstens 11 000 leerders geraak deur die onlangse vloede in die OR Tambo- munisipale distrik in die Oos-Kaap.

Volgens die departement van onderwys in die Oos-Kaap was 29 van dié skole die afgelope naweek steeds ontoeganklik omdat brûe wat gebruik word om na die skole te reis weens die vloedwaters vernietig is.

Die onderwysdepartement het gesê hy sal verseker dat al die leerders die nodige ondersteuning ontvang.

“ʼn Program is ingestel om leerders wat skool weens die onlangse vloede misgeloop het, te help om hul skoolwerk in te haal,” sê die departement.

(Foto: Natalie Richards/Facebook)

Port St. Johns is die ergste deur die vloede geraak, met swaar reën wat op 23 Maart hier en in omliggende gebiede uitgesak het.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week dié gebied besoek om die omvang van die skade te bepaal.

Zimkitha Macingwane, woordvoerder van die OR Tambo-distriksmunisipaliteit, het bevestig vier mense is dood ná die swaar reën en een word steeds vermis. Die polisieduikers is steeds op soek na die vermiste man van die Rhole-nedersetting in Lusikisiki, wat op 24 Maart (Vrydag) as vermis aangemeld is.

Altesaam tien brûe het ook in Port St. Johns weggespoel en ander paaie en geboue is beskadig.

Minstens 1 000 mense is nou dakloos gelaat nadat hulle die gebied moes ontruim omdat hul huise onder water was.

Dié inwoners is tydelike verblyf aangebied en volgens Macingwane is boumateriaal vir die oprig van tydelike strukture ook reeds afgelaai.

(Foto: O.R Tambo District Municipality/Facebook)

Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, het Sondag ʼn span gesondheidswerkers ontplooi wat broodnodige gesondheidsdienste aan dié inwoners sal bied.

Van die dienste wat aangebied gaan word, sluit onder meer behandeling van geringe kwale, gesinsbeplanning, maselsinenting vir kinders onder vyf jaar oud en Covid-19-inenting in.

Meth sal ook Maandag die dorp besoek. Sy sal na verwagting deur beamptes van Vodacom vergesel word om kospakkies aan die geraakte inwoners af te lewer. Hulle sal ook inwoners besoek wat by Green Farm Jeugsentrum en Jungle Monkey B&B gehuisves word.

Volgens Macingwane spook die munisipaliteit om die beskadigde paaie en infrastruktuur  te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amelia ·

sal graag wil weet hoekom besoek ramaphosa gebied wat gaan hy doen baie plek is oorstroom en onluste wat plaas vind en hy belowe hulp maar dis waar dit stop net beloftes beloftes

Pampoen ·

Ek het gehoor dat daar ‘n verskriklike droogte in die oos-kaap was. Het die reen nou verligting gebring?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.