40 jaar tronkstraf vir aanval op verkeersbeampte

(Argieffoto: Twitter)

ʼn Taxibestuurder wat in 2020 op ʼn groep verkeersbeamptes losgebrand, een van hulle beseer en daarna boonop ʼn polisiebeampte gewond het, gaan lank agter tralies sit.

Bonginkosi Ndevu (31) is Vrydag in die Thembalethu-streekhof op George tot 40 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis vir onder meer poging tot moord, gewapende roof, die rig van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Sers. Christopher Spies, woordvoerder van die polisie, sê drie vroueverkeersbeamptes het in Augustus 2020 om 09:10 ʼn taxi op die N2-hoofweg naby die ingang na Pacaltsdorp in George vir roekelose bestuur voorgekeer.

“Terwyl een van die verkeersbeamptes die taxi genader het, het die bestuurder – gewapen met ʼn vuurwapen – uit die voertuig gespring en verskeie skote afgevuur. Een van die beamptes is beseer voordat sy ontwapen is,” sê Spies.

Die taxibestuurder het te voet gevlug, maar is blitsig langs die N2-hoofweg opgespoor waar ʼn skietery tussen hom en die polisie uitgebreek het. Ndevu en ʼn 29-jarige polisiebeampte is in dié skietery gewond.

Ndevu is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op twee vuurwapens wat in sy besit gevind is.

ʼn Span speurders verbonde aan die eenheid vir taxigeweld is saamgestel om die ondersoek te behartig en Ndevu is van verskeie misdade aangekla. Sy aansoek om borgtog is suksesvol teengestaan en hy is sedert die voorval in aanhouding.

Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die ondersoek- en vervolgingspanne wat onvermoeid gewerk het om ʼn suksesvolle vervolging en swaar tronkstraf te verseker, vir hul goeie werk geloof.

“Die lang tronkstraf behoort as afskrikmiddel te dien vir diegene wat die stabiliteit van die vervoerbedryf sowel as die veiligheid van wetstoepassers bedreig.

“Die veiligheid van padgebruikers bly ʼn prioriteit van die provinsie se polisiëringsbenadering,” sê Spies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is die tipe vonnisse wat ons wil sien vir moordenaars, verkragters en politieke figure wat hulself aan belasting geld help vir eie gewin ,bou net groter en meer tronke of gebruik ou mynskagte.

Elize ·

Ek stem met hierdie ou mynskagte hoor. Jare terug was die voorstel ook gemaak maar menseregte het oorwin!

Jean ·

Ja want die regering soek die mense se stemme wat in die tronk sit, so hulle kry regte.

JohanR ·

Soe hy sal weer in 2063 ‘n taxi kan bestuur? Plaasmoordenaars kry minder tronk tyd.

Casper ·

Ek verwelkom die swaar vonnis,maar daar is al soveel ander wetstoepassing dood geskiet na die voorval.Het die vonnis as afskrikmiddel gedien?,ek dink nie so nie.

Watsenaam ·

En Wat van tronkstraf van 40 jaar vir polisie beamptes wat motoriste en ander beseer?

Ockert ·

Watter swaar vonnis? Convicts leef soos konings binne. 3 etes per dag, gratis medies, gratis verder gaan swot indien wil of bekwaam in ‘n ambag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.