5 gewapende rowers vas ná jaagtog

Die verdagtes het beheer oor die voertuig verloor voor hul vasgetrek is (Foto: Verskaf)

Vyf gewapende rowers, tussen die ouderdom van 30 en 34, is Dinsdag deur die polisie vasgetrek nadat hulle die plaaslike supermark in die Muswodi-nedersetting digby Thohoyandou in Limpopo beroof het. Hulle is in hegtenis geneem nadat die polisie hulle in ʼn jaagtog agterna gesit het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die polisie in Muswodi het inligting ontvang oor die gewapende rooftog in die plaaslike supermark. Vyf verdagtes het glo kontant, lugtydbewyse, selfone en ʼn Nissan-voertuig van een van die klante gebuit. Hulle het toe glo van die supermark met die gesteelde goedere gevlug.

Nadat die polisie die inligting ontvang het, het hulle dadelik tot aksie oorgegaan en die verdagtes agternagesit. Die verdagtes het glo langs die pad die gesteelde voertuig agtergelaat en in ʼn ander voertuig, ʼn Hyundai i10, geklim. Die verdagtes het in die rigting van die Matashe-Vhufuli-kruising gejaag.

Die polisie van Thohoyandou het intussen die verdagtes se pad in die rigting van dié kruising versper. Die verdagtes het die polisie gewaar en probeer om die voertuig in ʼn ander rigting te forseer. Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en die motor het in die struike langs die pad beland.

Mojapelo sê die verdagtes het toe uit die voertuig gespring en in ʼn ander rigting probeer vlug. Hulle het terselfdertyd op die polisie begin skiet en die polisie het teruggeskiet. Die verdagtes is net daarna in hegtenis geneem.

Die polisie het beslag gelê op die geld, selfone, twee vuurwapens en ammunisie asook die lugtydbewyse.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale kommissaris in Limpopo, het die lede van die polisie geloof vir hul goeie werk en vinnige optrede om die skuldiges vas te trek.

Die vyf verdagtes word moontlik ook met ander ernstige misdrywe in en rondom Thohoyandou verbind.

Hulle verskyn eersdaags in die Thohoyandou-landdroshof op aanklagte van sakeroof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook die besit van ʼn gesteelde voertuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Sekerlik poging tot moord ook as daar skote op die polisie gevuur is

marius ·

Is tdou se hof dan oop ? Die een wat die man en sy hond aangeval het se hof is toe ?

Adam ·

Ek wil nie lelik wees nie, maar as jy dink jy gaan wegkom in ‘n i10, moet jy sekerlik uit ‘n familie vol politici kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.