Die gewilde SABC2-sepie 7de Laan het Donderdag gewaarsku teen ʼn slenter waar misdadigers hulself glo as ʼn uitvoerende vervaardiger of rolspeler van dié sepie voordoen.
ʼn Bestuurspan van die sepie het in ʼn verklaring gesê sogenaamde “vervaardigers” van die sepie steel glo geld by voornemende akteurs wat oudisies beloof word wanneer hulle ʼn betaling aan die persoon maak.
Die misdadigers vra blykbaar “verskeie voorafbetalings” wat belangstellendes glo moet betaal voordat hulle ʼn oudisie kan aflê om moontlik ʼn rol in die Laan los te slaan.
“Neem asseblief kennis dat Danie Odendaal-produksies nié geld vra vir oudisies nie,” lui die verklaring. “Alle oudisies wat deur die produksiemaatskappy gehou word, word deur die hoof van rolverdeling gereël en by 7de Laan se amptelike ateljee gehou. In gevalle wanneer oudisies tydens amptelike toere plaasvind, maak 7de Laan sulke oudisies op sy amptelike sosiale media blaaie bekend en nooi mense op só ’n manier om ʼn oudisie af te lê.”
Volgens die bestuurspan wil die sepie onder geen omstandighede geassosieer word met “bedrieglike sindikate” nie. Hy het ook gesê hoewel hy jammer is vir aanhangers wat met dié foefie gevang is, kan die sepie nie aanspreeklik gehou word vir enige verliese nie.
“Ons kan nie aanspreeklik gehou word vir enige geld wat aan die sindikaat oorbetaal is of vir enige optrede wat jou lewe in gevaar gestel het nie,” waarsku die verklaring.
Volgens die verklaring moet mense op hul hoede wees vir enigiemand wat hulself voordoen as ʼn uitvoerende- of lynvervaardiger, ʼn direkteur, finansiële bestuurder of as hoof van rolverdeling.
Indien jy wil seker maak oor die egtheid van enige korrespondensie wat glo van 7de Laan af kom, of só ’n geval van bedrog wil aanmeld, kan jy die sepie op Facebook of Twitter kontak.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
Gewilde sepie? Sewende Traan?
Bestaan 7de Laan nog …?
7de laan is n wonderlike sepie maar wat realiteit in ons wereld uitbeeld nou kom skelms en probeer geld maak uit die sepie om voorte gee hul van 7de laan wat word van ons land hoe kry hul dit reg dat mense so maklik gefluis word . Geld is n ewel dis verseker
Los 7 de Laan uit. Baie goeie sepie. As julle dit nie wil kyk nie, moenie.
Gelukkig verskil smaak.
Is daar nog mense wat 7de Laan kyk? Regtig? So volksvreemd soos more heeldag!