Aanklaer se diefstalverhoor begin

(Argieffoto: Maroela Media)

Die verhoor van adv. Jeanette Neveling, die aanklaer wat daarvan beskuldig word dat sy klere en kos ten bedrae van sowat R3 000 gesteel het, het Maandag in die Molopo-landdroshof begin.

Neveling is die voormalige hoof van die spesiale handelsmisdaadeenheid in Noordwes.

Sy is op 16 Februarie verlede jaar vir beweerde winkeldiefstal by ’n kleinhandelaar in The Crossing-winkelsentrum in Mmabatho in hegtenis geneem.

Die staat en die verdedigingsprokureur het Maandag onderskeidelik leidende getuienis en die kruisondervraging van die eerste staatsgetuie afgehandel.

“Die tweede staatsgetuie, ’n sekerheidspersoneellid by die winkel waar die beweerde diefstal plaasgevind het, het die getuiebank ingeneem waarna die hof verdaag het om Dinsdag [vandag] ʼn inspeksie by Woolworths af te lê,” het Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, gesê.

“Hofverrigtinge sal ná hierdie inspeksie hervat word, waar die getuie sal voortgaan om te getuig.”

Volgens Mamothame verteenwoordig adv. Mashudu Mudau van die NVG se afdeling in Limpopo die staat om te verseker dat daar geen botsing van belange is nie, aangesien Neveling ʼn senior amptenaar in die Noordwes-afdeling was.

Maroela Media het vroeër berig Neveling het sedert die voorval bedank en dat haar kontrak op 30 Oktober beëindig is. Sy is aanvanklik ná die voorval geskors. Neveling het destyds aansoek gedoen dat die saak nie vervolg word nie, maar dit is van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SjN ·

Die senior amptenaar het n foutjie begaan en sal maar die gevolge moet dra.

Dries ·

Hoekom dit as jy n groot salaris verdien. Kleptomaan? is n siekte.

Atta ·

Nee, kleptomanie is sonde. As dit ʼn siekte was sou daar pille voor gewees het.

Scholtz ·

Gevolgtrekkings dat sy skuldig is, is, totdat al die getuienis gelei is, voortydig.

Dries ·

Dit klink nie moontlik nie. Sukkel om te glo dat so iets gebeur. Hoof van Handels misdaad ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.