Aanklagte teen Duduzane Zuma glo teruggetrek

Duduzane Zuma Foto: africa.widmi.com

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gaan na bewering die klag van korrupsie teen Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, voorlopig terugtrek.

Zuma sal na verwagting Donderdag in die Johannesburgse handelsmisdaadhof verskyn waar die korrupsie-aanklag teen hom voorlopig teruggetrek sal word, het Business Day Woensdag berig.

Luidens die berig weier Zuma se prokureurs om enige kommentaar te lewer totdat die hofproses afgehandel is. Volgens Phindi Louw-Mjonondwane, woordvoerder van die NVG, sal die staat ook eers ná Donderdag se hofverrigtinge kommentaar lewer.

Business Day berig dat die NVG Dinsdag ʼn brief aan Zuma se prokureurs gestuur het om hulle te verwittig dat die aanklag voorlopig teruggetrek sal word.

Zuma is in Julie 2018 aangekla van korrupsie en sameswering om korrupsie te pleeg wat verband hou met omkoopgeld van R600 miljoen wat na bewering in 2015 vir Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, aangebied is. Zuma was glo destyds teenwoordig toe dié aanbod deur ’n Gupta-broer gemaak is.

Intussen het eNCA berig dat die aanklag teruggetrek word aangesien Jonas se getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping nog nie afgehandel is nie. eNCA het berig die nuusagentskap het die brief wat die NVG aan Zuma gestuur het onder oë gehad.

Zuma het verlede jaar gesê hy dra geen kennis van ʼn werksaanbod en omkoopgeld van R600 miljoen wat na bewering sowat drie jaar gelede aan Jonas by die Guptas se Saxonwold-woning gemaak is nie.

Hoewel Zuma reeds erken het dat hy vir Jonas op die betrokke dag by ’n Rosebank-hotel ontmoet het waarna hy Saxonwold toe is, ontken hy dat Ajay Gupta by dié vergadering, wat onder andere die sakeman Fana Hlongwane ingesluit het, teenwoordig was.

Zuma het ʼn beëdigde verklaring by die kommissie van ondersoek na staatskaping ingedien as deel van sy aansoek om getuies te kruisondervra. Sy eerste interaksie met Jonas het begin toe hy hom na ʼn Gupta-familiegeleentheid, die Suid-Afrikaner van die jaar, wou nooi wat Jonas nooit bygewoon het nie.

Hlongwane, wat Duduzane sê hy as sy “oom” ag, het na bewering vir Jonas afgepers en dit is glo hoe die vergadering by Saxonwold plaasgevind het.

Zuma beweer daar was geen gesprekke tydens die vergadering oor ʼn dreigende kabinetskommeling waartydens Nhlanhla Nene afgedank sou word nie, asook nie sprake van ʼn werksaanbod of omkoopgeld wat vir Jonas aangebied is nie. Hy het weer eens bygevoeg dat Ajay Gupta nooit deel van die vergadering by die huis was nie.

Ajay Gupta het in sy eie verklaring ook ontken dat hy ooit ʼn vergadering met Jonas gehad het.

Jonas het in Augustus verlede jaar aan die kommissie gesê dat Gupta wel deel was van die gesprek en dat Nene as minister van finansies afgedank sal word waarna Jonas die pos sou kry mits hy sou instem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann cb ·

Die nuus is géén verrassing nie! Ek skat die meeste van ons het verwag dat dit gaan gebeur!

Christien vd Westhuizen ·

Laat Advokaat Gerrie Nel hom beetkry en looi ASB

lolla ·

ek wag nog om enige gevolge te sien van sake wat GN namens enige SAkaner aangevat het en uitgevoer het….of ek het dit erens gemis….so die miljarde rande taxgeld wat vir hofsake gebruik is gaan nou soos al die ander gevalle van die staat ‘wasted money’ wees.
Byt n slag kriminele en nie ‘soft targets’ in die hof nie….. of het die sterretjie ook geval??

Stripes ·

Hier is ‘n slang in die gras. Ondersoek die NVG se betrokkenheid by die Gupta’s ook.

Dries du Toit ·

Die saak is voorlopig terug getrek. Gee kans . Dalk gaan Gerrie hom nog beetkry

Willie ·

Ag asseblief hier gaan niks van kom nie…. die een is soos die ander!

Mariana ·

Ek wie kan nou nog verbaas wees oor die NVG se uitsprake. Die mannetjie,
nes sy pa gaan skotvry wegkom, soos gewoonlik. Untouchables!!!! Maar eendag is eendag gaan hulle vir hulle vasloop. Mens kan ook nie so lank wegkom met jou streke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.