Aanklagte teen Steinhoff en direkteure gebring

Argieffoto: ANA

Die Progressive Professionals Forum (PPF), ʼn Suid-Afrikaanse sakenetwerkorganisasie, het gesê hy is besig om strafregtelike aanklagte teen Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van die Steinhoff-groep, en ander direkteure van die maatskappy aanhangig maak.

Dit kom nadat Jooste verlede week bedank het te midde van bewerings van rekeningkundige onreëlmatighede by Steinhoff International Holdings in sy onlangse finansiële state.

Phapano Phasha, woordvoerder van die PPF, het Vrydag in ʼn verklaring gesê die PPF sal ʼn dossier vir ondersoek van strafregtelike aanklagte teen Steinhoff en sy direkteure, insluitend Jooste, by die polisiestasie in Stellenbosch indien na aanleiding van die beweerde onreëlmatighede by die maatskappy asook die “skulderkenning by verstek wat Jooste gemaak het deur te bedank”.

“Wat vir die PPF baie kommerwekkend is, is die aantygings en die onthullings wat Steinhoff se aandeleprys laat val het. Dit is nie net geld van private burgers nie, maar ook fondse van spesifiek arm swart mense wat grootliks in die openbare sektor is en ander staatsamptenare wie se pensioenfondse deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) bestuur word wat miljarde in Steinhoff-aandele belê het,” het Phasha gesê.

Hy het ʼn beroep op die OBK, die minister van finansies, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en minister Faith Muthambi gedoen om die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad te versoek om ses geoktrooieerde rekenmeesters op Steinhoff se direksie te ondersoek. Hy het ook versoek dat die saak by die onafhanklike regulerende raad van ouditeure aangemeld word en die nodige prosesse van stapel te stuur om die betrokke direkteure aanspreeklik te hou.

Phasha het gesê indien die minister van finansies nie die nodige ondersoek van stapel stuur nie, sal die forum “geen ander keuse hê” nie as om hom by die openbare beskermer (OB) te verkla vir pligsversuim.

Die PPF sal ook die OB versoek om ʼn omvattende ondersoek te doen na batebestuurders wat deur die OBK gesubkontrakteer word om vas te stel of hulle nie ook betrokke is by “beweerde dade van ekonomiese terreur” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

lv ·

So kom die gekonkel altyd op die lappe,party vat net langer as ander.Ek wens die talle ongerymdhede rondom die skietvoorvalle in die wildtuin wil ook die een of ander tyd oopgevlek word,dis n bom wat le en wag om te ontplof.

Steinhoff Slagoffer ·

My Pensioenfonds het miljarde verloor as gevolg van hul wanpraktyke! Ek is woedend verby!

Eish ·

Nou net hoop en bid ons word toegelaat om langer te werk ten einde op te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.