Aansoektydperk vir Wes-Kaapse skole verleng

(Argieffoto: pixabay)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het besluit om sy aanlyn skoolaansoeke vir die 2022- akademiese jaar tot April te verleng.

Dít nadat die departement op die nipper ’n oplewing in aktiwiteit op sy aansoekwebtuise opgemerk het. Verskeie ouers het ook versoek dat die tydperk vir aansoeke verleng word, sodat hulle hul kinders aansoeke kon voltooi.

Die departement se aansoekstelsel sou aanvanklik vandag (Vrydag) sluit.

Die departement het egter gehoor gegee aan dié versoeke en skoolaansoeke sluit nou eers op 1 April om middernag. Daar sal daarna geen verlenging wees nie, waarsku Bronagh Hammond, woordvoerder van die departement.

Ouers het teen begin April dan reeds 35 dae kans gehad om hul kinders se aansoeke in te dien. Die departement sê dit is meer as genoeg tyd vir ouers om die nodige dokumente bymekaar te kry om hul aansoeke te voltooi.

Hammond sê die aktiwiteit op die aansoekwebtuise oor die afgelope paar dae dui daarop dat sommige ouers die aansoekproses tot die laaste minuut uitgestel het. Sowat 16 000 aansoeke is Dinsdag nog ingedien, gevolg deur sowat 19 000 aansoeke Woensdag en 22 000 aansoeke Donderdag.

Die webtuiste was vanoggend nog baie aktief.

Altesaam 344 305 aansoeke deur 104 038 geregistreerde gebruikers is in dié stadium reeds op die webtuiste aangemeld.

Maroela Media het vroeër berig aansoeke kan aanlyn gedoen word by https://admissions.westerncape.gov.za/admissions/login.

Ouers word versoek om by minstens drie skole aansoek te doen, insluitend die een naaste aan die huis, en hul voorkeur ook op die stelsel aan te dui. Ouers moet daarna binne sewe dae die oorspronklike afskrifte by die skole indien om die proses af te handel asook enige ander vorm wat ʼn spesifieke skool vereis.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het twee video’s vervaardig om ouers te help om aanlyn te registreer en aansoek te doen.

Kyk hier hoe om te registreer:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.