Aanvalle op paramedici skerp veroordeel

Twee nooddienswerkers is geskiet toe hulle met ‘n kamma-noodgeval in ‘n lokval gelei en beroof is.

Die South African Emergency Personnel Union (Saepu) sê die aanvalle op paramedici is buite beheer.

Die vakbond sê hy is “geskok en diep teleurgestel” deur die toenemende voorvalle van geweld op nooddienswerkers.

“Verlede week het gewapende mans ʼn span in Inanda (in KwaZulu-Natal) aangeval en vanoggend word ons wéér wakker ná nóg ʼn aanval gisteraand in Cardham, in Phoenix in KwaZulu-Natal,” het Makuwa Kgaladi, woordvoerder van Saepu, gesê.

“Ons is moeg daarvoor om elke dag oor dieselfde ding te praat – en ons praat boonop van menselewens wat op die spel is. LUR’e vir gesondheid moet nooddienseenhede begin ernstig opneem, want dit wat nóú gebeur, is uiters jammer.

“Ná die Inanda-voorval het ons die LUR (vir gesondheid in KwaZulu-Natal, Nomagugu Simelane-Zulu) in die hande probeer kry om die bemanning saam met ons in die hospitaal te gaan besoek, maar sy was spoorloos.”

Tydens dié voorval het paramedici omstreeks 03:00 ʼn noodoproep ontvang oor wat kwansuis ʼn swangerskapnoodgeval was. Iemand het hulle begelei na die sogenaamde toneel van die noodgeval, maar hulle is op pad daarheen geskiet en van ʼn selfoon beroof.

Die DA het Simelane-Zulu ná die voorval gevra om maatreëls in te stel om paramedici beter te help beskerm. Van die party se voorstelle sluit in paneelbordkameras, ruitbeskerming om rooiligrowers te keer, selfverdedigingsopleiding en selfs polisiebegeleiding na gevaarlike gebiede.

Die Wes-Kaapse regering het ʼn tyd gelede nooddienswerkers in die provinsie heeltemal verbied om sekere gebiede sonder polisiebegeleiding binne te gaan.

Kgaladi het gesê daar is ʼn dringende behoefte vir alle betrokkenes om oor die kwessie te vergader.

“Dié LUR’e verstaan net die woord ‘dringend’ as dit by hulself of hul eie families kom,” het sy gesê.

Simelane-Zulu kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Die unie dreig ook om die dienste van sy lede snags te onttrek, tot hulle beter beskerm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cherokee ·

Waar is die kommentators wat so graag van hulle laat hoor met “jy mag nie oordeelnie” ?
Julle is stil nè!

Andre Potgieter ·

Politisie sien dit as net nog ‘n vorm van herverdeling van rykdom. Waarom sal hulle betrokke raak?

marous ·

Die regering wil nie , kan nie en sal nie iets doen , om die anargie wat deur hulself en hul kaders teweeg gebring is te keer nie . Somalie is ‘n paradys in vergelyking met die plek .

Saskia ·

Liewe genade..
Ook net in SA waar paramedici, verkeerspolisie ens BEROOF word. My beste vriendin, ‘n eiendomsagent, is twee maande gelede helder oordag deur voornemende “kopers” van haar selfoon en skootrekenaar beroof toe sy op afspraak uit is om ‘n eiendom aan hul te wys.

Niemand en niks is veilig in hierdie land.
Hoop van harte dat die betrokke mediese personeel spoedig sal aansterk.

Rina ·

Misdaad is nou n kritieke toestand in ons land. Wat n skande. Laakbare daad. STUUR 2 soldate saam elke ambulans.

Valerie ·

Rina, misdaad is al in ‘n kritieke toestand sedert die middel 80s. Dit het min of meer in 1984 losgebars en nog nie gestop nie. Onthou jy al die bomme van die tyd? Kon nie eers waag om saam met my dogters en seun, al drie toe maar baie jonk, ietsie by ‘n Wimpy te geniet nie. Kon nie inkopiesentrums toe gaan sonder om te wonder oor ‘n bom nie. nee, dinge is nog steeds kritiek. Dit sal net unieke leierskap neem om dit reg te ruk; iets wat SA, in my opinie, nog nooit gehad het nie.

Kobus ·

Sien geen veroordeling nie.
Paramedisie wat lewensnoodsaaklike werk doen se lewens word bedreig en die Regering is stil. Feite geen oordeel nie. Regering weet hulle kan nie meer misdaad hanteer in die land nie en daarom word dit geignoreer..

Liekie ·

Ek kan net my hande in die lug gooi..en vra… WAT is volgende ??
Die boosheid in ons liewe mooie land gaan my verstand te bowe !!

C op C ·

Dit gaan my verstand te bowe dat daar onlangs ‘n ambulans rooftog beplan is in een van die afrikaanse sepies. se episodes. Ek het nêrens nog gesien dat dit veroordeel is nie. Die gedagte van so ‘n rooftog kry sommer gestalte in ons huise-aangebied op ‘n skinkbord. Dis skrikwekkend. Hoe kan dit toegelaat word? Moenie sê dis aktueel-dis krimimeel!!!

Johan ·

Jy kan nie 20meter in die middestad van Pretoria loop nie Dan sak hulle jou toe soos wilde honde

Hanna Hoekom ·

Skort doodeenvoudig nooddienste in hierdie areas op totdat die skuldiges uitgelewer word. Glo my, iemand in die betrokke gemeenskap weet wie hulle is! Onregverdig teenoor die res van die gemeenskap? Dalk. Onregverdig teenoor nooddienswerkers? Beslis.

Elize ·

Ek stem saam met c op c. Swak storielyne deesdae, dis om van siek te word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.