Aanvullende begroting: Geen nuwe belastings nóú verwag

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: GCIS)

Woensdag is ʼn geskiedkundige dag, met ʼn aanvullende begrotingsrede wat deur die minister van finansies, Tito Mboweni, gelewer gaan word.

Die minister sal die begrotingsaankondigings om 15:00 tydens ʼn virtuele sitting van die parlement doen. Die aanvullende begroting het nodig geword omdat die oorspronklike Februarie-begroting uitgedien geraak het weens die land se afgradering na rommelstatus, die koronavirus en veral die ekonomiese gevolge van die verlengde grendelstaat.

Een ding waaroor landsburgers nie bekommerd hoef te wees nie, is onmiddellike nuwe belastings. Tydens ʼn voorligtingsessie aan die parlementêre perskorps het amptenare van die nasionale tesourie aangedui dat Mboweni voorstelle vir belastingaanpassings by Woensdag se toespraak kan insluit, maar dat sulke belastingaanpassings eers in Februarie van krag sal kan word.

Die amptenare het benadruk dat hierdie aanvullende begroting gaan fokus op die veranderinge aan die Februarie-begroting – dis dus daarin gewortel, met die klem op die vergelykende herprioritisering van staatsinkomste.

Daar gaan dus ʼn vergelykende tabel uitgereik word waarin die Februarie-syfers teenoor die aangepaste syfers gestel word, en die aanpassings gaan omvattend wees.

Amptenare het byvoorbeeld uitgewys dat daar nie in die gebeurlikheidsreserwe of in die rampbestuurbegroting voorsiening gemaak is vir enigiets naastenby soos die R130 miljard wat vir koronavirus-bekamping nodig was nie.

Geen presiese syfers is deur die amptenare aangekondig nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër sy optimisme uitgespreek dat Suid-Afrika weer vinnig van die ekonomiese terugslae sal herstel.

“Inkomste het drasties geval en dit is nodig om ons programme te herprioritiseer, openbare besteding te sny en af te skaal op projekte waar moontlik. Terwyl ons alles moontlik moet doen om bestaande werke te behou, moet ons ook nuwe werksgeleenthede skep en hoër vlakke van beleggings in die ekonomie aanmoedig.

“Ons moet ook entrepreneurskap aanmoedig. Ons hoop ook binnelandse en buitelande beleggers sal hou by dit waartoe hulle hul verbind het. Suid-Afrika het steeds wonderlike geleenthede en bates om in te belê,” het Ramaphosa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pierreli ·

Hulle sal aanpassings maak en die dan terug dateer. Hulle sal nie enige belasting verligtig toepas op die belasting betalers nie.

pokkel ·

Gee die begroting ‘n hupstoot deur sigarette terug te sit op die rakke!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.