‘Aardklop móés aanpas om te oorleef’

Aardklop se opwipformaat is verlede jaar by die Voortrekkermonument in Pretoria voortgesit. (Foto: Aardklop Nasionale Kunstefees/Facebook)

Hoewel die Momentum Beleggings Aardklop-fees (voorheen bekend as die Aardklop Nasionale Kunstefees) vanjaar gedeeltelik, en vir die eerste keer sedert die begin van die Covid-19-pandemie, na sy geboortedorp terugkeer, blyk dit dat gereelde feesgangers steeds ongelukkig is oor vanjaar se voortsetting van die fees se innoverende opwipformaat.

Alexa Strachan, uitvoerende hoof van die fees, het Dinsdagmiddag in ʼn plasing op die fees se amptelike Facebook-blad ʼn lang verduideliking gegee waarom die fees vanjaar voorlopig ʼn beperkte terugkeer gaan geniet.

“Deur die jare heen was Aardklop se hoofdoel nog altyd om kuns en kultuur te ondersteun, en om ’n platform en inkomste te bied vir duisende teatermakers, tegnici en ander diensverskaffers. Indien ons nie daardie doel ten alle koste bly najaag nie, versaak ons die kunste, kunstenaars en in die proses onsself,” skryf Strachan.

Aardklop word sedert 1998 jaarliks op Potchefstroom tydens die Septembervakansie van die Noordwes-Universiteit én binnelandse skole aangebied en lok jaarliks meer as 100 000 besoekers na dié studentedorp.

Dié fees is sedert 2020 soos talle ander egter op sy knieë gedwing weens die Covid-19-pandemie. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) is vanjaar ook afgeskaal terwyl die Laeveldse InniBos-kunstefees in sy aanvanklike formaat heeltemal afgestel is.

Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop. (Foto: Aardklop)

Daarom het Aardklop verlede jaar vir die eerste keer afgewyk van sy tradisionele formaat en ʼn kleiner, dog suksesvolle, opwipformaat by die Voortrekkermonument in Pretoria voortgesit in ʼn poging om steeds ʼn platform vir die kunste tydens die pandemie te bied.

Maroela Media het vroeër berig dat dié fees egter vanjaar van 30 September tot en met 2 Oktober op kleiner skaal weer op Potchefstroom plaasvind terwyl Pretorianers en Johannesburgers kan uitsien na teater, visuele kunste, gesprekke en hulle eie feesterreine met musiek, kuns- en kosstalletjies van 6 tot 9 Oktober.

Strachan het verskeie punte vir dié beperkte voortsetting in die Facebook-plasing gegee, waarvan die vernaamste geriewe en finansies is.

Omdat die NWU se vakansietye (10 – 17 Oktober) nie vanjaar met skoolvakansies ooreenstem nie, is feesgeriewe op die studentedorp uiters beperk.

“Sonder ons vernaamste borg en vennoot se fasiliteite, is ’n gewone fees in Potchefstroom bloot nie moontlik nie. Boonop kom slegs 7% van kontant- en ander borge vanuit Potch, terwyl ons in ’n sogenaamde normale jaar drie keer meer in Potch spandeer as wat ons inkry,” verduidelik Strachan.

Sy het ook daarop gewys dat brandstofpryse met 55% gestyg het sedert die laaste “normale” fees in 2019 plaasgevind het en teen begin Oktober 2022 gaan dit waarskynlik nóg hoër wees. Vervoerkoste vir kunstenaars, uitstallers en tegnici skiet dus die hoogte in.

“Soveel as 76% van alle kaartjiekopers vir produksies, is afkomstig uit Gauteng en die bestedingsvermoë van die middelklas het beduidend gekrimp. Ons moet dus die fees vir die feesganger (van Potch sowel as Gauteng) so bekostigbaar moontlik maak, sonder om self onder te gaan.”

Omdat van die fees se Gautengse venues reeds goed toegerus, spaar hul dus met die opwipmodel ook op verskeie tegniese uitgawes.

Volgens Strachan beteken dié aanpassings nie noodwendig dat Aardklop in die toekoms dié formaat sal bly volg nie.

“Tot watter mate die gedragspatrone van mense permanent verander het, sal bloot die toekoms leer. Indien ons dus nie verseker kan wees dat die feesganger na die fees gaan kan kom nie, neem ons die fees na die feesganger toe. Dit kom nie sonder risiko nie, maar soos alle besighede soms gedwing is om te vernuwe en aan te pas, is ons ook.”

Sy het ook die hoop uitgespreek dat dié skrywe lig sal werp op van die besluite wat geneem is.

“Ons gee graag die versekering dat die besluit om drie opwipfeeste te hou geensins ligtelik geneem is nie. Ons vertrou dat Potchefstromers en inwoners van die omliggende dorpe steeds die fees saam met ons vanjaar sal geniet.”

Die volledige feesprogram sal binnekort bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

Baie geluk met slim, weldeurdagte planne om die kunste weer te laat floreer – na verskeie terugslae. ‘n Hoë mate van aanpasbaarheid en om nuut te dink is ongetwyfeld vereistes vir herstel en sukses op alle terreine in ons land!

Vexed ·

Ja ek weet nie hoekom hulle die fees nie net sonder geld kan voort sit nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.