ActionSA nou ook deel van regstryd teen Eskom

(Argieffoto)

Ten spyte van pres. Cyril Ramaphosa en sy minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, se vele aankondigings en beloftes om ʼn einde aan beurtkrag te maak, versleg die situasie byna daagliks.

Daarom het ActionSA besluit om hom te skaar by die gesamentlike hofsaak teen dié departement, sy eweknie by openbare ondernemings, die president, die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) en die regering in die geheel om hulle aanspreeklik te hou vir hul versuim om stabiele kragvoorsiening aan Suid-Afrikaners te verseker.

“Die belangrike stap word gedoen terwyl die energiekrisis vererger, met fase 6-beurtkrag wat al hoe meer gereeld ingestel word. Dit het die ANC-geleide regering se voorgestelde inwerkingstelling van ʼn nasionale ramptoestand voorafgegaan. Hierdie is ʼn stap wat ActionSA ten sterkste teenstaan in die lig van die misbruik en korrupsie wat tydens die Covid-19-ramptoestand gesien is,” sê adv. Gillian Benson, ActionSA se hoof van strategiese litigasie.

Altesame 19 applikante vorm tans deel van die hofsaak. Dit sluit in politieke partye, gemeenskapsorganisasies en vakbonde.

Luidens hofstukke vra hulle onder meer vir tussentydse kwytskelding van beurtkrag vir alle gesondheidsinstellings, openbare skole, elektroniese kommunikasienetwerke, die polisie (insluitende alle polisiestasies), alle instellings wat gemoeid is met die voorsiening van water en klein en mikro-ondernemings wat bederfbare goedere verkoop en krag daarvoor nodig het.

Hulle vra voorts vir billike kennisgewing oor beurtkragskedules en ʼn billike geleentheid vir kragverbruikers om voorleggings hieroor te doen.

As die hof nie hiertoe instem nie, vra die partye dat die staat dan alternatiewe kragbronne aan die genoemde instellings voorsien, wat sonpanele en kragopwekkers insluit, maar nie daartoe beperk is nie.

Die applikante vra die hof ook om die minister van openbare ondernemings en Eskom te dwing om binne sewe dae die maatreëls uit te stippel wat hulle gaan instel om te verseker krag word gelewer, asook vir ʼn verduideliking van hoe hulle ononderbroke kragvoorsiening gaan verseker.

“In wese vra ons vir die volle bekendmaking van die regering se plan om beurtkrag te beëindig – of ons wil hulle gebrek aan ʼn plan blootlê,” sê Benson.

ActionSA sê na 15 jaar van beurtkrag is dit duidelik dat die ANC-regering geen plan het om die probleem op te los nie en Suid-Afrikaners in die duister laat. “Ons glo dat sonder dringende optrede deur die bekommerde partye, die Suid-Afrikaanse regering sal aanhou om die krisis ongebreideld te laat voortduur.”

Die applikante vra die hof ook om dadelik alle besluitnemingsrekords bekend te maak – asook die stappe wat gedoen is – om kragopwekkingskapasiteit te verseker. Hulle vra vir alle ooreenkomste rakende die bou en prestasie van die Medupi- en Kusile-kragsentrale, alle ooreenkomste met onafhanklike kragprodusente en die kapasiteit wat hulle kan lewer, die datum waarteen elkeen van dié produsente krag kan begin lewer en enige betalings wat gedoen is – of wat die regering verwag om te doen – aan elke onafhanklike kragprodusent.

“Ons kan nie ʼn situasie duld waar ʼn regering beloftes maak wat miljoene mense raak en daar dan bloot geen gevolge is wanneer hulle nie hul spertye nakom of die land ooglopend mislei nie,” sê Benson.

“ActionSA gaan alles binne sy vermoë doen om die regering aanspreeklik te hou. Ons het genoeg van hierdie aaklige situasie gehad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.