Adam Tas nou ambassadeur vir Voortrekkermonument

Adam Tas voor die Voortrekkermonument (foto: verskaf)

Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Adam Tas is die derde ambassadeur van die Voortrekkermonument, benewens die gemengdegevegskuns-wêreldkampioen Dricus du Plessis en oud-Springbokrugbyspeler Marcell Coetzee.

Tas en sy span het Maandag die monument besoek en alte gemaklik poseer vir ʼn foto in die tuine wat as ʼn groot advertensiebord op die R21 tussen Pretoria en die OR Tambo-lughawe opgerig gaan word.

“Dít is my kultuurerfenis. As jy nie die verlede onthou en waar jy vandaan kom nie, het jy geen pad om die toekoms in te neem nie. Ek is ʼn trotse ondersteuner van die Voortrekkermonument, die hele terrein en alles waarvoor dit staan,” sê Tas.

“Ek het ʼn geweer, Dricus het sy vuiste, maar hy is nou so famous en so min hierso … so ek is nou die nuwe beskermheer. Sorry, Dricus, alles van die beste, hoor,” sê Tas grappenderwys oor sy nuwe status as ambassadeur.

“Dit is wonderlik om te sien dat ons ’n jonger generasie van ambassadeurs het wat die Voortrekkermonument wil ondersteun. Dricus, Marcell en Adam is mans wat gereeld die monument besoek en trots die fakkel dra van ons baken van hoop,” sê Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder by die Voortrekkermonument.

“Ons ambassadeurs stop egter nie net daar nie; elkeen wat die monument besoek en ondersteun, is ’n ambassadeur van ons geloof, kultuur en taal. Net soos die leiers van die Groot Trek – Gerrit Maritz, Hendrik Potgieter, Piet Retief, Louis Tregardt en Piet Uys – is hierdie drie ambassadeurs hedendaagse pioniers om ons erfenis te bewaar,” sê Pretorius.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lettie ·

Dankie julle 3 manne. Trots dat jul ons erfenis en museums bewaar en instand hou.

KB ·

Ek dag hy was die skeepsdokter in Kaap de Goede Hoop?! (Hy behoort eintlik ʼn stetoskoop om sy nek te dra, as om agter ʼn rots te lê…geweer in die hand!)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.