AfriForum-buurtwagte hou nasionale massapatrollie

Sasolburg (Foto verskaf)

AfriForum-buurtwagte reg oor Suid-Afrika het op 14 April in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n nasionale massapatrollie gehou. Die aksie het omstreeks 16:00 begin en tot 08:00 die volgende oggend geduur.

Altesaam 2 474 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 67 051 km in 1 911 voertuie afgelê. Drie-en-tagtig voorvalle is aangemeld en gesamentlik met die SAPD, GPF, sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies hanteer. Ten spyte van hoë brandstofpryse het AfriForum se buurtwaglede en ander rolspelers steeds ver gery om ’n verskil te maak in hul onderskeie woonbuurte en plase.

In die sentraalstreek het AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte hul hommeltuig ingespan om misdadigers, wat ’n kitsbank opgeblaas het, te volg wat gelei het tot hul inhegtenisneming. Die Bronkhorstspruit-buurtwag in die noordstreek het ’n inbreker gevang en oorhandig aan ’n sekuriteitsmaatskappy.

Die Albertinia-buurtwag in die suidstreek het dagga en ’n gevaarlike wapen by twee minderjariges afgevat. Dieselfde tak het ook ’n verdagte in ’n huisbraak-saak vasgetrek vir wie daar reeds ’n lasbrief uitgereik was.

“AfriForum se 157 buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder,” sê Raymond Hohls, AfriForum se operasionele bestuurder van Gemeenskapsveiligheid.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig, word hier deel van jou naaste buurtwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Goed gedoen – dis ons enigste oplossing in die korrupte land om SELF ons buurte te begin beskerm. Die onbevoegde, skelm regering het GEEN intensies om misdaad hok te slaan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.