Afrika se ‘hoogste Kersboom’ skitter buite Brits

Benewens die drie meter hoë ster wat die boom kroon, word dit verder deur stringe liggies van 5 000 m lank belig. (Foto: Verskaf)

Die 38 m hoë Kersboom wat buite Brits in Noordwes skitter, is nie net die hoogste Kersboom in die land nie, maar ook in Afrika.

Volgens beskikbare inligting op die internet is die naashoogste Kersboom (17,5 m) in Suid-Afrika by die Oceans-winkelsentrum in KwaZulu-Natal geleë. In Afrika staan die bekende Coca-Cola-boom in Lagos, Nigerië, altesame 33 m hoog.

Dit was lank die vasteland se hoogste Kersboom voordat dit onlangs deur ʼn splinternuwe Kersboom van 37,5 m hoog in Delta getroef is.

Dit is egter steeds ʼn raps korter as die pragtige Kersboom wat nou by GST, ʼn ingenieursmaatskappy wat toerusting vir die mynbedryf vervaardig, se hoofkantoor op Hartbeespoort staan.

GST, wat die projek van stapel gestuur het, sê die Kersboom is ʼn baken van hoop vir die hele gemeenskap, land én kontinent. Die boom is heel gepas ook die “Baken van Hoop” gedoop.

GST se 38 m hoë Kersboom op Hartbeespoort word as ʼn baken van hoop vir die land én kontinent beskryf. (Foto: Verskaf)

Volgens Walter Gähler, GST se woordvoerder, het die maatskappy in Januarie met die beplanning van die boom begin. Bouwerk is egter eers later in die jaar begin. Die boom is op die grond aanmekaargesit voordat dit gelig en in plek geplaas is.

Benewens die drie meter hoë ster wat die boom kroon, word dit verder deur stringe liggies van 5 000 m lank belig.

Gähler sê hul moedige projek om die grootste Kersboom in Suid-Afrika op te rig, het alle verwagtinge oortref en gou in iets met veel dieper mening verander.

GST se Kersboom is op die grond aanmekaargesit voordat dit gelig en in plek geplaas is. (Foto: Verskaf)

“Die Baken van Hoop getuig nie net van ingenieursbekwaamheid nie, maar is ook ʼn baken van veerkragtigheid en optimisme vir ons geliefde Suid-Afrika.

“Hierdie wonderlike skepping dui die begin van ʼn nuwe hoofstuk aan en simboliseer die potensiaal en eenheid van Suid-Afrika en die Afrika-vasteland. Die weerkaatsing van die skitterende boom se lig dien as ʼn herinnering daarvan en vernuwe hoop in die harte van ons mense.”

Gähler sê voorts dat die boom ʼn viering van die feestyd is, asook ʼn getuienis van die gees wat die land en kontinent verenig.

Die boom kan op die hoek van die R512- en N4-paaie in Hartbeespoort gesien word. Toegang tot die perseel waar die boom staan, is egter beperk.

Gähler sê die boom se liggies sal nie in slegte weerstoestande aangeskakel word nie. Die Kersboom sal na verwagting in Januarie weer uitmekaar gehaal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Dankie. Dis nou sommer ‘n lekker gevoel ervaring. Ek neem aan daars sonpanele weggesteek in die boom? Of draai hy in die rondte en wek krag op? Vra maar net.

Nettie ·

So mooi! Baie dankie aan die maatskappy (GST) en almal wat betrokke was. Wens ek kon dit sien. Dis waar. Ons land het Jesus Christus se Hoop nodig. Meer as ooit tevore! Dis tog waaroor Kersfees gaan. Dat Hy gebore is as ons Redder en Verlosser.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.