Afrikaans 100: Vier ons of verdeel ons?

V.l.n.r. Martelize Brink, Melt Myburg, Earl-Ray Basson, René Arendse en Giep van Zyl

ʼn Passievolle gesprek het Woensdag by die Suidoosterfees plaasgevind oor die Afrikaans Amptelik 100-feesviering wat op 8 Mei vanjaar afskop.

Die debat, gelei deur RSG-omroeper Martelize Brink, was deel van die Jakes Gerwel-gespreksreeks by die Suidoosterfees in Kaapstad. Saam met haar in gesprek was bekroonde digter en uitgewer Melt Myburg (ook ontwikkelingstrateeg van die Suidoosterfees), KSUT-dosent Earl-Ray Basson en Giep van Zyl en René Arendse, onderskeidelik nasionale koördineerder en nasionale adjunk-koördineerder van die Afrikaans Amptelik 100-feesviering.

Brink het gesê dit is ʼn vreugde om te sien dat soveel mense die geleentheid bywoon omdat dit ʼn belangrike onderwerp vir die toekoms van Afrikaans is. Die saal het stampvol gesit met persone wat graag dié gesprek wou volg.

Die Afrikaans Amptelik 100-feesviering sal op 8 Mei 2025 ʼn hoogtepunt bereik waar die eeufees van Afrikaans as amptelike taal gevier word. Afrikaans is op 8 Mei 1925 naas Engels as amptelike taal in die land bekragtig.

Van Zyl het met sy spreekbeurt benadruk dat dit algemeen bekend is dat Afrikaans se reis al baie langer as net 100 jaar is en dit is belangrik vir die Afrikaans 100-veldtog om erkenning en blootstelling te gee aan dié ryk geskiedenis. “Ons is nie seker waar die taal presies begin het nie, maar ons hoop dat die reis nooit sal ophou nie. Die honderd jaar is tog ʼn mylpaal wat ons kan vier. Dit is ʼn kans om die kollig groter te maak: om elke instansie en persoon, wat lief is vir Afrikaans, plek te gee om in die lig te staan.”

Volgens Van Zyl is Afrikaans ʼn huis met baie kinders – en soms skuur en stoei die kinders, maar ons is almal steeds deel van een huis.

Arendse beaam dit en sê vir haar is die fees ʼn sentimentele projek. “Dit gaan oor die nalatenskap wat ons los. Dit is ʼn taal wat deur slawe geskep is, ʼn taal wat van kombuistaal tot universiteitstaal gegroei het. Ons kan saam eienaarskap neem van haar toekoms.”

‘Witmenstaal’

V.l.n.r. Martelize Brink, Melt Myburg en Earl-Ray Basson

Volgens Basson word slegs een groep van die spraakgemeenskap verteenwoordig in Standaardafrikaans. “Ons kan nie 100 jaar vier van die status wat Afrikaans geniet ten koste van die ander tale wat onderdruk is nie. Dit is politici wat Afrikaans verhef het tot die status wat dit geniet.”

Hy het spesifiek verwys na CJ Langenhoven wat beweer het dat Afrikaans die enigste witmenstaal is wat buite Europa ontstaan het.

“Ja, Afrikaans is ʼn huis met baie kinders, maar baie van daardie kinders staan nog buite. Vir wie vier ons? Wat vier ons?” wil Basson weet.

Hy meen Afrikaans kan nie as inklusief beskou word as bruin skrywers en digters se werk nog die minderheid van voorgeskrewe boeke op skool verteenwoordig nie.

Myburgh sê hy verwelkom enige projek wat taal en kuns bou en opbou, maar die probleem lê by die woord “amptelik” in die feesviering se naam en handelsmerk. “‘Amptelik’ beteken dat Afrikaans begin het toe parlementariërs die taal deurgestoot en Indiërs vervreem en hulle selfs terugverjaag het Indië toe. Dit was dieselfde mense wat Afrikaans as amptelike taal verklaar het, ten koste van ander tale of selfs dialekte in die land.”

Myburgh sê hy weet nie of die organiseerders van die Afrikaans Amptelik 100-feesviering oningelig of aspris is nie.

‘Geen politiek nie’

René Arendse en Giep van Zyl

Van Zyl en Arendse het benadruk dat die feesviering hoegenaamd nie ʼn politieke beweging is of by die politiek wil betrokke raak nie.

Myburgh meen egter dat geen taal in die land van die politiek geskei kan word nie. “Solank as wat ekonomiese ongelykheid voortduur, kan politiek nie daarvan losgemaak word nie.”

Myburgh het by die organiseerders van die Afrikaans 100-fees gepleit om eerder ʼn projek van stapel te stuur wat gratis toegang tot ʼn woordeboek op ʼn selfoon verseker vir elke kind, eerder as om geld te spandeer aan ʼn fees.

ʼn Goeie begin

Arendse sê gesprekke soos dié debat beteken dat die Afrikaans 100-feesviering reeds in die regte rigting beweeg. “Ons visie en ons missie en ons harte is op die regte plek. Ons wil graag plek om die tafel maak vir elkeen.”

Van Zyl voeg by: “Dit is nie ʼn vraag of ons verdeel of vier nie, ons wil verenig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

annie ·

Indien almal wat glo Afrikaans as gebruikstaal (eers ‘n kombuistaal genoem) uitspan of inspan nou Afrikaners is, wil ek eerder as ‘n Afrikaanssprekende bekend staan… totdat die volgende mannewale opduik, wat gou sal wees, want wit Afrikaanssprekendes is glo nie eers burgers van SA nie en moet eers toestemming afsmeek van laat-inkommers om iewers op dié stukkie aarde te mag vertoef. En waar dit mog wees sal deur die volgende bestaansreg-wetsontwerp bepaal word. Miskien moet ons terugval op ons oorspronklike afkomstighede soos Franse Hugenote, Hollanders, Duitsers, Engelse, ens. Ongelukkig sal sommige van die nuwigste Afrikaanders ok dan moet kies tussen al die moontlikgede of dalk gedwonge voel om gerieflikheidshalwens iewerste te gaan behoort. Het ons nie al genoeg rede om weer vir ‘n oorlog of twee te koes nie? Skynbaar nie.

Theuns ·

Ag shame Basson! Hou op kla en volg die leiding wat jy/ julle spul selfbejammerende kermende klaers nie doen nie!
Solank jy RUGRY op Afrikaans se rug is jy nie leier nie en sal nooit wees.
Kermgatte doen niks anders as afbreek.
Swak

pestilensie ·

Magies, mag ek my skoenveters vier sonder Dat dit polities raak , Basson en mense soos hy is wat ek noem ‘ grabbers ‘ dit is alles of niks

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners is plesierig. Ons hou van partytjies.

Lorinda ·

Deesdae kom ek Afrikaanse ouers teë wat hul kinders Engels grootmaak. Dis vir my sò hartseer …

Anonymouse ·

Dis oor mense soos Annie (hierbo) wat ek te skaam is om myself ‘n Afrikaner te noem. Die meerderheid Afrikaners is Annies, en ek kan myself nie daarmee vereenselwig nie.

OU SAAR ·

Ja Lorinda…
Ek het al hoeveel Afrikaanse onderhoude op verskeie Afrikaanse tv programme gekyk. Mens kan duidelik hoor die persoon is Afrikaans magtig en die vrae word ook in Afrikaans aan hom gevra, maar dit word in engels geantwoord. Dis verskriklik hartseer dat Afrikaners hul kultuur en taal so verwerp. Sommer net so weg gooi. Bitter hartseer.
Maak my warm onder die kraag.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mense, gaan bestudeer weer die vroeë ontstaan van Afrikaans. In die vroeë 1600s het werkers op plase in Java en Batavië die spot gedryf met hul Hollandse bestuurders deur ‘n Nederlandse gebrabbel te praat. Hul het daai gebrabbel saamgeneem Kaap toe en hier het die vryburgers heerlik saam gebrabbel. Die gebrabbel is verder gevoer deur dit foneties in Arabies vas te lê. Tekste uit die slawe se geloofsboek is reeds in die 1700s uit Arabies in die ontluikende taal vertaal. Latere Afrikaners het die Nederlandse Bybel tot in 1900s gebruik.

trotsNAMSA ·

Waarom nou weer Afrikaans ? Ek is siek en sat vir “mense” wat op “panele” sit en nonsens praat. Ek weet ek is ‘n Afrikaner, afkomstig van Duitsland / Nederland. Ek weet dat my moedertaal Afrikaans is en dat ek in Afrika gebore is en dood sal gaan. Afrikaans word deur baie mense gepraat. Die Afrikaner hou egter daarvan om dié taal te meng met veral Engels. As ‘n Afrikaanssprekende Afrikaner sy/haar taal meng, dan is dit eenvoudig om te wys hy/sy kan “Afrikaans Engels” praat. Siestog. Ons jongmense is die voorbokke! Ek gril elke keer as ek TV kyk of iemand in ‘n winkel “Afrikaans Engels” praat. Engels word in baie lande nie gepraat of verstaan nie, hoe ? Daardie landsmense was nie gekoloniseer deur kleine Brittanje nie.

Danie ·

As Afrikaner wat hier gebore is en wat in hierdie land my deel gedoen het om dit op te bou en te beskerm gedurende my weermag dae word ek nou misken as Afrikaner want daar is n verdeeldtheid onder die Afrikaner. Jy is of Afrikaner of Boer. Nou as jy n Boer wil wees dan moet jy n rassis wees deur n Wit Israeliet geloof aan te neem en te se ander rassissse in SA het regspraak om Hemel toe te gaan. Maar dieselfde boer vergeet wie het die spoor gesny tydens die bos oorlog. Dieselfde boer vergeet hoeveel swartes het saam geveg tydens die Anglo oorlog. My vraag aan die Boer is? Dink jy regtig dat Elohim net jou God is en dat jy wat “Boer” is alleen reg het op Elohim. Waarvoor maak jy dan gebruik van ander rassisse om jou plaas te bewerk. Waarom laat jy jou huis se dag take deur die swartvrou laat doen. Hoekom doen jy as ” Boer ” dit nie. Ek Mnr. Die Boer het netsoveel aanspraak in hierdie land om my eie te wees soos jy. Daar is geen verskil tussen my Bybel en joune nie die enigste is dat jy die Boer die name uitspreek wat jou pas en nie soos dit geskryf staan nie. Hierdie verskille tussen Afrikaner en Boer moet eerde verwyder word en saam hande gevat word en as daar dan nou Afrikaners is wat nog steeds links oorhel soos sekere dan is dit maar so maar moenie my as Afrikaner afskryf net omdat ek nie dieselfde geloofs oortuigings as jy Die Boer het nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Terloops, volgens die taalkenner prof. Susan Purén (RSG, 1 Mei 2024) het die Trekkers uit die Wes-Kaap nog sterk Nederlands gepraat. Boere in die oosgrens wat by hulle aangesluit het het al ‘n soort Afrikaans gepraat. Dis daai dialek wat in die latere Transvaal en Vrystaat gepraat is. Was dit nie daarvoor nie sou die Afrikaanse taalbewing in die Kaap seker vroeg gestop word en sou ons vandag suiwer Nederlands gepraat het. Behalwe miskien in die Wes-Kaap.

OW ·

Interessante skrywe.Volgens een deelnemer is dit politici wat Afrikaans verhef het tot die status wat dit tans geniet.Ek wens die status kan omskryf word,want dit is ook die huidige politieke bedeling wat Afrikaans se nek wil omdraai uit al die sfere van die politiek,en samelewing.Solank ons hierdie tipe uitsprake kry sal daar geen oplossings wees nie.Elke bevolkingsgroep kan trots wees op wie hulle is,en solank daar minderwaardigheid bestaan teenoor mekaar,sal geen oplossings gevind word nie.Hier is baie werk om te doen,spring aan die werk en lig daai koppe en kenne.

Nettie ·

As mens Afrikaans wil vier, vier dit EERLIK. Nie deur stellings soos die volgende:
“Dit is ʼn taal wat deur slawe geskep is,”

Slawe se woorde het BYGEDRA tot die skep van Afrikaans. Maar die basiese fondasie is sonder twyfel Nederlands/Flaams. Dit is onbetwyfeld die dogter van Nederlands. Dus, geskep deur NEDERLANDERS.

Met woorde aangevul vanuit baie ander tale, soos deur slawe, asook Duits, Frans, Engels, selfs Skots, Iers en ‘n paar ander.

Dit behoort nie meer aan Nederlanders, of nou uitsluitlik aan Afrikaners of Boere nie, maar aan almal wat dit praat en liefhet. Maar wees eerlik oor die oorsprong en basis daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.