Afrikaans klinkende sukses op Spotify-trefferverslag

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabe)

Afrikaans is nie net groot op die verhoog nie, maar klaarblyklik ook op musiekstromingsdienste.

Spotify, ʼn gewilde musiekstromingsdiens, se jaarlikse Spotify Wrapped-verslag dui daarop dat Afrikaanse musiek vanjaar meer as 400 miljoen keer gestroom is.

Dié verslag is ʼn jaarlikse hoogtepunt vir Spotify-luisteraars en bied ʼn pasgemaakte terugblik op luisteraars se individuele musiekvoorkeure en luistergewoontes van die afgelope twaalf maande.

Elke gebruiker ontvang ʼn lys van hul mees gestroomde kunstenaars, liedjies, genres en selfs die totale tyd wat hulle gedurende die jaar aan musiek bestee het. Miljoene mense het wêreldwyd die afgelope naweek na sosiale media gestroom om dié data, wat vanjaar weer op 30 November uitgereik is, te deel.

Aldus vanjaar se verslag is Riaan Benadé se 2020 treffer “Spontaan” vir ʼn tweede jaar die mees gestroomde Afrikaanse lied op Spotify. Hy het verder drie liedjies in die toptien mees gestroomde Afrikaanse liedjies, gevolg deur Barto met twee.

Sy prestasie maak hom boonop die tweede mees gestroomde Afrikaanse kunstenaar op Spotify ná Appel.

(Grafiek: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

“Dankie Spotify vir die mal nuus: ‘Spontaan’ het na drie jaar in 2023 die nommer-een-plek gevat vir die Afrikaanse lied wat die meeste gestroom is op hierdie platform. Baie dankie vir almal wat my musiek so ondersteun. Ek waardeer dit maan toe en terug,” het Riaan oor sy Spotify-sukses in ʼn Instagram-plasing geskryf.

Irene-Louise van Wyk is die vroulike Afrikaanse kunstenaar wie se musiek die meeste op Spotify gestroom word. Haar treffer, “Tekkies Brand”, beklee tans die sewende posisie in die toptien mees gestroomde Afrikaanse liedjies. Sy is die enigste vroulike kunstenaar op dié lys.

(Grafiek: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

“Om te sien hoe ʼn liedjie, wat ʼn ruk gelede uitgereik is, steeds weerklink soos dit tans doen, is inspirerend,” sê Henco Harmse, Spotify se Afrikaanse spesialisbestuurder in Suid-Afrika.

Die Spotify-speellys, “Afrikaanse Treffers”, is ook die derde mees gestroomde musiekspeellys in Suid-Afrika.

“Musiekspeellyste speel ʼn belangrike rol in die ontdekking van musiek. Nie net help dit plaaslike kunstenaars om raakgesien te word nie, maar dit help ook om musiekgenres te laat groei. Ons hoop is om te sien dat die Afrikaanse musiekspeellys-gehore van regoor die land bereik, van Giyani tot Durban, en wêreldwyd,” voeg Henco by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Snot ·

Terloops, my Spotify praat Afrikaans met my. Verstel net jou Instellings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.