‘Afrikaanse skole mag hul eie taalbeleid bepaal en toepas’

sos-hoofde-ontbyt-taalbeleid

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die Skoleondersteuningsentrum, gesels met hoofde in Johannesburg by ‘n hoofde-ontbyt. Foto: Verskaf.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het hoofde Vrydag tydens ’n hoofde-ontbyt in Johannesburg ingelig oor die implikasies van nuwe toelatingsregulasies aan Gautengse skole.

Die aanlyn registrasieplatform sal nou eers op Maandag 20 Mei open en is volgens die provinsie se onderwysdepartement die enigste manier waarop ouers aansoek kan doen vir die plasing van gr.1‑ en gr. 8-leerders by skole vir die 2020‑skooljaar.

Tydens die ontbyt het adv. Albert Lamey hoofde toegespreek oor hul regte met betrekking tot taalbeleid, voedingsgebiede en kapasiteitsbepaling van skole. Lamey het die Hoërskool Overvaal verteenwoordig in die hofsaak teen die Gautengse onderwysdepartement toe dié departement die skool wou dwing om 55 Engelse leerders in te neem. Die hof het in die skool se guns bevind.

Lamey benadruk dat skole die reg het om hul eie taalbeleid te bepaal en toe te pas.

“Die Grondwet maak voorsiening vir moedertaalonderrig, waar dit prakties uitvoerbaar is. Die nuwe regulasies maak nêrens verwysing na die taalbeleid van ’n skool nie, maar die Nasionale Norme en Standaarde vir Taalbeleid vereis dat ’n leerder sy taal van onderrig aandui wanneer hy aansoek doen by ’n bepaalde skool,” sê Lamey.

“Waar ’n skool die taal gebruik wat die leerder gekies het en daar plek in die betrokke graad beskikbaar is, moet die skool die leerder aanvaar.”

Hy sê skole diskrimineer nie teen kinders indien hulle ’n taalbeleid, selfs ’n enkelmedium‑beleid, toepas nie.

“Volgens my is dit net diskriminasie indien ’n skool ’n leerder weier indien die leerder ’n ander huistaal het as die skool se taal van onderrig, maar bereid is om in die skool se taal van onderrig skool te gaan,” sê Lamey.

“Indien skole probleme met die aanlyn stelsel ondervind wat betref taal van onderrig, moet hulle dit onmiddellik met die departement opneem. Dit is my mening dat die skool die reg sal hê om daarop aan te dring dat die skool se taalbeleid dienooreenkomstig toegepas word tydens die plasing van leerders.”

Lamey sê ’n skool se taalbeleid kom ook ter sprake wanneer ’n skool se voedingsgebiede bepaal word. Waar ’n bepaalde Gautengse distrik tien Engelse skole en twee enkelmedium‑ Afrikaanse skole het, sal Afrikaanse skole se voedersones groter moet strek as Engelse skole wat op ’n kleiner area die skool se kapasiteit kan vul.

Volgens Lamey bevat nuwe regulasies boonop ’n aantal absurditeite wat die rangorde van voorkeurplasings aan skole betref. Volgens die nuwe regulasies sal leerders wat die naaste aan die skool woon eerste geplaas word, daarna leerders wat broers of susters in die skool het en dan leerders wie se ouers die naaste aan die skool werk. Vorige regulasies het voorkeur aan leerders gegee wie se ouers binne die voedersones van skole woon óf werk.

  • Die volledige video van adv. Albert Lameyse advies aan hoofde is op die SOS se webwerf beskikbaar.
  • Die berig is gewys sedert plasing om die nuwe openingsdatum vir die aanlyn toelatingstelsel by te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Cherokee

Dankie vir jou navraag.
ʼn Voedingsgebied of voedersone vir ʼn skool is die gebied waaruit ʼn spesifieke skool sy leerder kan verkry. Die wette vir toelatingsregulasies in Gauteng is onlang gewysig en die gebied is nou na 30km vergroot.
Hoop dit verskaf meer duidelikheid oor die term.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Andreas ·

Ek het idee hier waar ek woon is dit al tot vlak duskant Die Wildtuin vergroot.

Danie ·

Geld dit net vir skole of universiteite ook want ek glo wat vir die een geld geld vir die ander ook….

Pieter du plessis ·

Die anc regering betaal vir die vervoer van swart kinders na skole wat altyd afrikaans was en nog is.Die skole in meeste van hulle woonbuurte staan of leeg of word onder benut, Lezufi moet die ware probleme aanspreek en oor sy haat kom vir wit mense en spesifiek afrikaans dan sal dit beter gaan .

sweis ·

Ek stem ons moet sterk staan veral as dit die toekoms van ons kinders gaan bepaal .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.