Afsondering: Motorverkope, -herstelwerk weer hervat

motorsleutels

(Argieffoto)

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, het regulasies in die Staatskoerant afgekondig wat die handel in nuwe en gebruikte voertuie nou weer moontlik maak.

Dit is vroeër ingevolge die landwye staat van algehele afsondering verbied.

Die regulasies sluit aankope van passasiersmotors, ligte kommersiële voertuie, ekstra swaar kommersiële voertuie en ander soos busse, motorfietse, sleepwaens, woonwaens, landboutoerusting of enige ander toerusting wat ontwerp of aangepas is om gesleep te word in.

Handel wat toegelaat word:

  • Die verkoop van nuwe en gebruikte voertuie.
  • Die groothandel in nuwe en gebruikte voertuie deur motorvervaardigers en invoerders.
  • Die in- en uitvoer van alle soorte voertuie deur nasionale grensposte, maar onderhewig aan streng riglyne.
  • Die inruil van motors en terugneem van bruikhuurmotors en die groothandel van gebruikte voertuie.

Om die verkoop van voertuie en die behoorlike funksionering van die waardeketting te verseker, mag administratiewe sentrums, soos padwaardigheid- en toetssentrums ook heropen.

Die verkope word in verskillende fases toegelaat.

Fase 1 – wat dadelik in werking tree – sluit bepalings in dat handelaars met ʼn maksimum van 30% van sy personeel mag heropen, dat die meeste verkope telefonies of aanlyn hanteer moet word en dat persoonlike aanraking tot die minimum beperk moet word.

Toetsritte mag net op afspraak onderneem word en voertuie moet tuis afgelewer word.

Waar moontlik moet dokumente elektronies onderteken word en veilings moet aanlyn gehou word.

(Foto: pixabay)

In fase 2 mag tot 60% van werkers terugkeer werk toe. ʼn Beperkte getal klante sal by handelaars toegelaat word en streng higiëne en sosiale distansiëring moet geld. Diegene wat kan, moet steeds van aanlyn dienste gebruik maak. Toetsritte mag op afspraak by handelaars bespreek word. Voertuie mag in fase 2 wél by ʼn handelaar afgehaal word, maar moet verkieslik tuis besorg word. Aanlyn veilings sal steeds gehou word, maar kopers sal voor die tyd na die voertuie mag gaan kyk.

Volgens die regulasies tree fase 3 van die spesifieke bepalings op 8 Junie in werking en sal dit geld totdat vlak 4 van die afsondering opgehef word.

In dié fase kan alle werkers terugkeer werk toe. Kontak op die perseel word toegelaat, maar moet tot die minimum beperk word. Afsprake vir toetsritte kan by die handelaar self gemaak word. Voertuie mag by die handelaar afgehaal word. Veilings word steeds aanlyn gehou, maar kopers kan vooraf na die voertuie kyk. ʼn Beperking op die getal mense by die veiling sal geld en ʼn afstand van 1,5 m moet deurlopend tussen mense gehandhaaf word.

Die regulasies bepaal voorts dat net ʼn beperkte hoeveelheid mense betrokke mag wees om handelaars voor te berei om sake te hervat. Streng veiligheidsmaatreëls, soos dat almal maskers moet dra, moet ook geld. Geen kliënt mag sonder ʼn masker toegelaat word nie. ʼn Register van besoekers moet bygehou word en geen kinders word toegelaat nie.

Ondersteuningsdienste word ook hervat en sluit toetssentrums, weegbrûe en logistieke dienste vir die groothandelverspreiding van voertuie in.

(Foto: pixabay)

Noodherstelwerk word voortaan ook toegelaat. Instandhouding- en herstelwerk mag net op afspraak geskied en instap-kliënte mag net onder uitsonderlike omstandighede toegelaat word. ʼn Geskrewe register van besoekers moet bygehou word. Geen lid van die publiek mag die werkswinkel binnegaan nie en herstelwerk moet binne ʼn voertuigeienaar se munisipale grens gedoen word.

ʼn Lys van noodherstelwerk wat toegelaat word, vorm deel van die regulasies. Dit sluit motordienste in wat ingevolge ʼn vervaardiger se voorgestelde diensintervalle gedoen moet word.

Geen kosmetiese herstelwerk word toegelaat nie en geen vrywillige of roetine dienste wat nog nie ingevolge ʼn diensplan nodig is nie, mag nou gedoen word nie.

Die verkoop van onderdele word toegelaat.

Outo-elektrisiëns, band- en windskermdienste, verspreidingsentrums, paneelkloppers en enige ander verwante bedrywe mag ook heropen.

Kliek hier vir die volledige regulasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karlahari ·

2de Handse Voertuie mag net binne provinsies geskied.
Ek probeer my skuld konsolideer na aflegging.
Maar ek kan nie my voertuig in n ander provinsie verkoop nie ….
Voertuig moet in munisipale gebied gediens word….waar daar nie n handelaar is nie.
Ek gee op kororaal….

koos10 ·

Baie interessant hoe die datum vir vlak 3 bekend gemaak word maar nie datums vir enige ander vlakke nie. Hier is nou 4 vlakke en ons het nog 4 “levels” inperking.
Kan ons tussen die lyne lees dat die vlakke aan mekaar verbind word? Veral na gister se CCC (Covid Command Centre) of dan SSS (Super Simpel Sentrum) vergadering.

Anel ·

So, ek mag ‘n motor koop, verkoop, nuut of tweedehands. MAAR EK MAG NIE PLAKKIES KOOP NIE!!!

Duck ·

Miskien gee Toyota nou ‘n lekker “corona discount” op sy Hilux’e
Darm lekker om te droom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.