Afsondering: Tukkies vang aanlyn graad

studente

Foto: Argief

Gegradueerdes aan die Universiteit van Pretoria (UP) het Maandag amptelik aanlyn hul grade ontvang. Dit volg nadat die gradeplegtigheid wat van 7 April tot 8 Mei sou plaasvind, gekanselleer is weens die algehele landwye afsondering.

Prof. Tawana Kupe, die UP se visekanselier en rektor, het Maandag 11 000 grade, diplomas en sertifikate tydens ’n virtuele gradeplegtigheid aan studente toegeken. Altesaam 234 hiervan was doktorsgrade en 1 492 meestersgrade.

“Met die virtuele plegtigheid wil ons gegradueerdes steeds die geleentheid gee om formeel hul grade te kan ontvang om sodoende aan te kan gaan met hul lewens,” het Kupe in sy toespraak gesê.

“Ons sal hierdie unieke tyd in ons lewens vir altyd onthou as gevolg van die buitengewone manier waarop dié virus die hele wêreld tot stilstand gebring het. Dit is ʼn tyd van angs, paniek en spanning oor die gebrokenheid van die menslike lewe,” het Kupe gesê.

Ané Steynberg (Foto: Verskaf)

Kupe het ook in sy toespraak verwys na die UP wat op die voorgrond staan in die bestryding van die virus. “Van ons akademici neem aktief deel aan die toetsing en behandeling van mense wat positief of moontlik positief vir die virus getoets het. Hulle is betrokke by die navorsing oor moontlike entstowwe, sowel as die gebruik van 3D-drukwerk om beskermingsmateriaal vir gesondheidspraktisyns te vervaardig.”

Kupe het ’n beroep gedoen op alle gegradueerdes, wat nou deel vorm van die UP se alumni, om die wêreld in te gaan en die universiteit se naam hoog te hou.

Gegradueerdes sal steeds die geleentheid kry om aan die gradeplegtigheid later vanjaar deel te neem.

Een van die gegradueerdes, Ané Steynberg (26), sê dit was vir haar ’n heel “anderse” ervaring.

Sy sê dit was lekker om amptelike erkenning vir vier jaar se harde werk te kon kry.

Steynberg het fisioterapie aan die UP studeer en is tans besig met haar gemeenskapsjaar in die Barberton-distrikhospitaal.

“Dit voel lekker om in die deurmekaar tyd waarin ons nou leef iets lekkers te kan vier. En om die vaardighede wat ons by UP geleer het in die werksplek te kan toepas.”

Willem Truter (Foto: Verskaf)

“Die virtuele plegtigheid was ses minute lank. In plaas daarvan dat ons oor die verhoog gestap het en ’n hoedjie in die lug gooi, het ek my eie weergawe gehad – op my bank met ʼn glasie sjampanje in die hand,” vertel Steynberg.

Nóg ’n gegradueerde, Willem Truter (21) wat sy onderwysgraad tydens die plegtigheid ontvang het, sê dit was vir hom ’n unieke ervaring.

“Dit is verstaanbaar waarom ons op só ʼn wyse ons grade moes kry, maar ek sal steeds die ware plegtigheid wou ervaar. Ek het die afgelope vier jaar hard gewerk en sou tóg nog steeds trots op die verhoog wou staan,” vertel Truter.

Die UP se virtuele gradeplegtigheid kan hier gevolg word.

Luidens ’n verklaring op die UP se webtuiste het studente ná afloop van die gradeplegtigheid ’n video-boodskap ontvang waarin Kupe al die gegradueerdes gelukgewens het.

Sertifikate word ná die landwye afsondering aan studente gepos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

seeskulp ·

Baie geluk aan elke student na al die jare se harde werk en uithou. Mag daar n blink toekoms vir jou wag.

Jaco ·

mens kan ook aanlyn n graad koop. maar dan is dit maar net ‘n Klein hullpmiddel om werk te kry. die “regte”velkleur is eerder deurslaggewend om werk in SA te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.