Agt vissermanne vermis toe boot omslaan

Die omgeslaande vissersboot, die Maredon, in die see nadat die boot naby Kaap St. Francis in die Oos-Kaap omgeslaan het. Foto: NSRI

Ondanks ʼn uitgebreide soektog op see, vanuit die lug en al langs die kuslyn, is daar steeds geen teken van agt vissermanne wat vermis word nadat ʼn tjokka-boot Sondag in die vroeë oggendure in die see naby Kaap St. Francis in die Oos-Kaap omgeslaan het nie.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die polisie en sy duikeenheid gaan Maandag voort met die soektog. Die NSRI-bemanning in St. Francisbaai is op bystand om die polisie te help indien dit sou nodig wees.

Volgens Lambinon is die NSRI se St. Francisbaai-bemanning omstreeks 03:30 ontbied nadat bemanning op ander tjokka-vissersbote rooi noodfakkels in die see gesien het. Een van die bote, die Silver Eagle, en nog ʼn vaartuig het nader beweeg om ondersoek in te stel en het gesien dat ʼn vissersboot, die Maredon, omgeslaan het.

“Dit blyk dat die Silver Eagle op ʼn reddingsboot afgekom het en aangemeld het dat die reddingsboot te na aan die rotse gedryf het. Hulle kon dus nie by die boot uitkom nie. Volgens die bemanning op die boot het hulle een oorlewende uit die water getrek,” het Lambinon gesê. Die man is later in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem.

ʼn NSRI-seereddingsboot het rowwe seetoestande, reën en ses meter hoë golwe getrotseer om ʼn soektog te begin na die bemanning van die omgeslaande vissersboot. Daar is intussen bevestig dat daar 16 mense aan boord die Maredon was toe dit omgeslaan het. Die SAPD, private ambulansdienste, ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy, die provinsiale nooddienste, nog lede van die NSRI en ʼn weermaghelikopter is ontbied om met die soektog te help.

Die omgeslaande vissersboot, die Maredon, in die see nadat die boot naby Kaap St. Francis in die Oos-Kaap omgeslaan het. Foto: NSRI

Lede van die publiek en NSRI-reddingswerkers het later op die liggaam van een van die vissermanne langs die kuslyn naby Sunset Rocks afgekom en nog vyf oorlewendes is in dieselfde gebied op die strand gevind. Die omgeslaande vissersboot kon ook naby die kuslyn by Sunset Rocks gesien word, maar reddingswerkers kon weens die hooggety nie onmiddellik naby die vaartuig kom nie.

“Die golwe het veroorsaak dat die omgeslaande boot ʼn paar keer omgerol het en ooggetuies kon sien hoe ʼn oorlewende uit die boot uit klim. NSRI-reddingswemmers het ingeswem om die visserman te red en hom uit die water uit te help. Hy is met die weermaghelikopter na ʼn hospitaal geneem,” het Lambinon gesê. Hy het gesê ses van die sewe oorlewendes is gehospitaliseer.

Lambinon het gesê polisieduikers kon later daarin slaag om by die Maredon uit te kom en het die vaartuig met toerusting oopgesny, maar daar was geen bemanningslede daarin nie. Die soektog na die agt vermiste bemanningslede duur voort.

Volgens Lambinon doen die polisie ʼn geregtelike doodsondersoek en sal die voorval ook deur die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.