Agterstand in howe dalk vererger weens geldnood

Daar is groot kommer oor die agterstande by howe. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die groot agterstand in sake by Suid-Afrikaanse howe wek kommer. Dié agterstande sal boonop na alle waarskynlikheid toeneem, nadat die departement van justisie se begroting gesny is.

Die jaarlikse begroting vir die kantoor van die hoofregter was R2,2 miljard in die 2020-’21-boekjaar, terwyl dit in die 2021-’22-boekjaar na verwagting op R2,33 miljard gaan staan en ʼn jaar later kwalik meer op R2,35 miljard.

Kenners sê die voortgesette en verergerende agterstande by die land se hoër howe bedreig regspleging – en hoewel dié agterstande voor die Covid-19-pandemie reeds ʼn kopseer veroorsaak het, is die situasie nou selfs erger.

Jaco Mulder, VF Plus-woordvoerder oor justisie, sê die agterstande maak boonop inbreuk op slagoffers se regte.

“Die agterstande in die hooggeregshowe in Suid-Afrika is ʼn growwe skending van die regte van slagoffers van misdaad en geskille en hou ʼn bedreiging vir die regstelsel in.

“Die Covid-19-krisis het beklemtoon hoe ondoeltreffend hofprosesse is en die uiterste behoefte om die howe te moderniseer en te digitaliseer,” sê Mulder.

Hy sê terwyl die departement die kans gehad het om die stelsel te moderniseer terwyl die howe tydens die streng inperkingstyd tydelik gesluit is, is hierdie kans nie behoorlik benut nie. Sommige verhore word deesdae aanlyn gehou, maar daar is steeds nie genoeg steun of opleiding om die stelsel behoorlik te laat funksioneer nie, sê Mulder.

Hy waarsku dat die voorgestelde begrotingsbesnoeiings rakende die vergoeding van werknemers by howe boonop beteken dat kritieke poste nie gevul sal word nie – en dit gaan die agterstande selfs verder vergroot.

Die hoër howe val onder die kantoor van die hoofregter – die verdeling van die begroting is vir administrasie, hoër hofdienste en regterlike opleiding en steun – en volgens ʼn ontleding van die kantoor se begroting wat aan die parlement voorgelê is, gaan ʼn krimpende begroting ernstige gevolge inhou.

Die parlementêre komitee oor justisie en korrektiewe dienste het ook sy groot kommer oor die groeiende agterstande te kenne gegee, hoewel hy geen syfers bekend gemaak het oor presies hoe groot die agterstand in sake tans is nie.

“Die [Covid-19-] krisis het gewys presies hoe ondoeltreffend die hofprosesse is en het die uiterste behoefte benadruk om die howe te moderniseer en te digitaliseer. Dit is egter onrealisties om te verwag dat dit oornag gedoen kan word,” sê die komitee.

Volgens die komitee het die departement van justisie reeds ʼn plan saamgestel om die agterstande met sake te takel.

“In hierdie stadium is dit nie vir die komitee duidelik of die inwerkingstelling van die plan goed vorder nie, maar berigte dat hofure selfs verder afgeneem het, dui op die teendeel.”

Mulder sê hoewel die kantoor van die hoofregter hoofsaaklik ingestel is om die hoofregter en administrasie van hooggeregshowe te steun, is die hoofregter ná ʼn wetswysiging aangewys as die hoof van die regbank wat verantwoordelik is vir die daarstelling en monitering van norme en standaarde vir die uitoefening van die regterlike funksies van alle howe.

Hy sê die oordrag van selfs méér funksies na die kantoor van die hoofregter, soos die spesialishof vir grondeise, moet opgeskort word tot bestaande probleme uitgestryk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Die regstelsel is ‘n klug en ‘n geldspel. Op universiteit het ek die vak inleiding tot die reg tot inleiding tot die fout herdoop. Netso met Arbeidsfout, Handelsfout, Siviele fout, ens. Min wetende dat ek later reg bewys word.

Marcello ·

Daar was nie regtig tyd vir modernisering in die Covid 19 tyd nie, want die howe het voortgegaan om sake te hanteer.

Hennie J ·

Dis al algemene kennis dat regters hulle besig hou met twak i.p.v regspleging. Hlope se truuks en hoofregter se gebede is voorbeelde daarvan. Ek laat my nie vertel n ieder en elke regter is voldag besig met sy/haar werk nie, tewens ek dink dit is van die verwaandste en luiste burokrate in piesangland. Daar is selfs uitsprake wat al meer as vier jaar neem om gelewer te word, vra maar vir regter yvonne daarna.

Adam Adriaan ·

Die RSA is lank reeds ‘n land wat deur die Mafia bende ANC gekaap is en geiselaar gehou word. Wetteloosheid en die stygende spiraal van die polisie diense en geregshowe wat nie hulle take kan uitvoer, met gepaargaande totale gebrek aan oordeelsvermoë. Dit is skokkend om te sien hoeveel mense die afgelope paar dae vermoor is. Gemeenskappe neem die gereg in eie hande, want hulle weet, deur dit te rapporteer, sal daar dadels van kom. Binne die vol;gende jaar sal daar mense se oë oopgaan en tot die besef kom dat daar totale chaos in hierdie landjie van ons is, met die pandemie en die entstof sage chaos wat, bestaan gaan daar derduisende mense sterf.

Karina ·

Covid se skuld is die nuwe wysie wat gesing word, hulle het seker moeg geraak om te sê dit is apartheid se skuld. Altyd iets/iemand anders se skuld, nooit die cANCer regering nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.