Agtjarige getuig oor gruwelike mishandeling

Alberton, mishandeling, verwaarlosing, Chané Bezuidenhout

Die geskeide ouerpaar tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Die agtjarige seun van ʼn Albertonse ouerpaar het Dinsdag getuig hoe sy ouers sy jonger sussie teen ʼn kas gegooi, met ʼn elektriese kabel geslaan en gewurg het en haar ook forseer het om te eet totdat sy opgooi. Die sussie is in 2021 vermoedelik vermoor.

Die seun, met dieselfde blonde hare as sy vermoorde sussie, het deur middel van ʼn tussenganger deur ʼn kringtelevisiestelsel in die Johannesburgse hooggeregshof, wat in die Palm Ridge-hof sit, getuig.

“Hulle was vieslik met ons en ek weet nie hoekom hulle dit met ons gedoen het nie,” het die seun getuig.

Hy het later bygevoeg: “Hulle was stout. Hulle het die verkeerde goed met my en my sussie gedoen.”

Maroela Media het vroeër berig oor die seun se ouers wat tereg staan onder meer op aanklag van die moord en verkragting van hul dogter. Sy is op 11 Mei 2021 deur paramedici op die sypaadjie voor haar ouerhuis dood verklaar.

Luidens die akte van beskuldiging staan al twee tereg op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, twee aanklagte van kindermishandeling, asook verkragting en moord.

Die seun se getuienis oor wat met sy sussie gebeur het, het dié van dr. Tinyiko Zeida Nkondo, ʼn forensiese patoloog, gestaaf.

Nkondo het vroeër getuig die meisie het onder meer wonde oor haar hele liggaam, asook aan haar geslagsdele, gehad. Laasgenoemde wonde was kort voor haar dood toegedien.

Sy het ook veelvuldige skaaf- en kneusplekke van verskillende grootte oor haar lyf gehad. Baie van hierdie wonde was meer onlangs opgedoen, terwyl ander genees of amper heeltemal genees het.

Volgens die seun was hy by toe sy pa die sussie teen ʼn kas in hul kamer gegooi het.

Op ʼn vraag van die staat het die seun getuig hy dink dit kon moontlik gewees het omdat sy sussie stout was en op die bed gespring het.

Hy het ook getuig sy ma het by meer as een geleentheid sy sussie met ʼn elektriese kabel gewurg. Hy het opgestaan en met sy hande beduie hoe sy ma die koord om sy sussie se nek sou gesit en met albei hande styfgetrek het. Die sussie is ook met ʼn donkeroranje skoen geslaan, hard op haar maag gedruk en haar mond is toegedruk as sy nie wou eet nie.

Soms het dit vir hom gelyk of sy sussie amper dood was en sy sou baie huil as dié dinge gebeur, het die seun getuig.

Hy is self ook mishandel, het hy getuig: “Ek het met ʼn geel karretjie gespeel. Sy [die ma] het geloop en aspris die ketel gelig [en warm water op hom uitgegooi] en ek het seergekry sodat ek met ʼn ambulans weggeneem is.

Hierna is hy en sy sussie weggeneem van die ouers, maar later in gevolge ʼn hofbevel op 24 Julie 2020 aan hulle terugbesorg.

“Ek was nie bly toe ek moes terug gaan na my ma nie. My sussie was, maar nie altyd so baie nie,” het hy getuig.

In dié tyd het hy vir ʼn rukkie by ʼn familielid en toe by pleegouers gebly. “Niemand was met my lelik nie en het met my gespeel en my bederf met lekkers,” het hy getuig.

Die dag van sy sussie se dood het dit gelyk of sy baie naar was. Hy onthou hy het baie gehuil.

Hy het getuig hoe haar melkbottel styf in haar mond gedruk is tot sy opgegooi het. “Sy het opgegooi terwyl sy geëet het en pappa het gesê sy moet dit [die opgooi] eet.”

Die seun het ook getuig sy sussie is met ʼn “dik kabel” om die nek gewurg voordat die ambulans gekom het.

Hy het voorts getuig dat sy seerplekke gehad het op haar maag, rug en bene toe die ambulans haar verwyder het.

Op ʼn vraag van sy ma se regsverteenwoordiger het die seun getuig hy verlang na sy suster omdat hulle na aan mekaar was.

Vir die duur van sy getuienis het al twee sy ouers uitdrukkingloos in die hof gesit.

Hofverrigtinge is tot later uitgestel vir kruisondervraging van die seun se getuienis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Pawiljoen Rot ·

Daar is mense wat enigiets sal gee om net ‘n ou kindjie te kan hê, maar nie kan nie. En dan is daar hierdie gemors wat geseën is en nie eens verdien om asem te haal nie…

Alida ·

In die stad Rothenburg is ‘n museum oor Middeleeuse martelmetodes. Sou alles graag op hierdie ouerpaar wou toets. Gewone tronkstraf sal te goed wees vir hulle.

Denise ·

hoe kan mense dit doen aan kinders!!!!!!!!!….. baie baie hartseer

Wolkie ·

Ek wil huil, tot ek nie meer kan nie. Daai kind is gebore om liefgehe te word, beskerm te word van die monsters in die wereld, net om vermoor te word deur monsters, jou eie ouers. Dis BITTER hartseer. soveel ouers wat bid vir kinders, en dan kry jy die wat hulle eie kinders verniel. Die Here slaap nie.

ES ·

Ek gaan binne die volgende week vir die eerste keer ‘n ouer word van ‘n klein seuntjie en ek kan nie verstaan hoe enigiemand dit aan ‘n weerlose kind kan doen nie. Die gevoel wat ek binne my het vandat ek hierdie berig gelees het is een van absolute skok en dit walg my.

Ek hoop hulle kom nooit weer uit die tronk nie. Gemors!

Milan ·

Vir die ouers van hierdie dogtertjie: Lukas 18:16

Skaam julle!

Marous ·

Woorde kan nie beskryf wat in ‘n mens se gedagtes opkom nie.

Anel ·

Die arme seuntjie! My hart gaan uit na hom. Nou moet hy weer, amper 3 jaar later, weer van vooraf die trauma beleef. So jammer ons regstelsel wil nie vinniger werk waar daar sulke gevalle is nie!

Mariana ·

Dis vir gemors soos die wat die doodstraf daar moet wees. Hulle moet nooit weer daglig sien nie. En ook moet die mense wat hulle teruggeplaas het in die gemors se sorg ook rekenskap gee. Watter verweer het daardie klein mensies gehad teen sulke wreedaards. Net baie hartseer.

melaney ·

Nadat ek die eerste paar sinne gelees het, kon ek nie verder lees nie.

Lisma ·

Ek wil net graag weet hoekom die regter en maatskaplike werker, wat hierdie arme kinders teruggeplaas het by hierdie monsters, nie ook in die beskuldigde bank sit nie!! Haar dood is hulle skuld ook. Hoekom kinders wegvat by sulke slegte goed en dan die kinders later teruggee, waar was die opvolg besoeke. Hoe het hulle nie gesien hoe die kinders lyk met merke en wonde. My hart breek want al wat hierdie arme kind geken het in haar kort lewe, was pyn, verwerping, hartseer, honger. Alles wat sleg is!!

Riana ·

Daar moet ekstra spesiale strawwe wees vir hierdie soort monsters

Patch ·

Sluit hulle toe, gooi die sleutel weg en vergeet van hulle. Hulle verdien niks in die lewe nie. Die feit dat hulle suurstof inasem is reeds te veel.
Hoe doen ouers so iets aan hul kinders? Dit gaan my verstand te bowe. Wat gaan deur jou kop terwyl jy ‘n kind rondgooi, wurg, amper bewusteloos slaan en kookwater op hulle uitgooi.
Dan sit hulle emosieloos in ‘n beskuldigdebank, het hulle nie harte nie?
Hierdie tipe sake maak my rooi sien.

Manie ·

Sulke oortreders behoort volgens Wet steriel gemaak te word sodat hulle nooit ooit weer mag kinders hê nie.

JohanR ·

As ek ‘n baba of klein kinders sien dan kom daar water in die oe want hulle is soe onskuldig en kyk en vertrou na jou. Nou gaan maak jy hulle sleg seer. Alle vertroue in jou en grootmense is weg…..all trust is gone! Dankie tog daar was net ouers met groot liefde in ons huis.

NADINE ·

Ai!!!!! Dit is so hartseer dat die kinders hier deur moes gaan. Ek is so jammer dat dit met julle moes gebeur het.

Gaitsigubib ·

Mense (nie almal) se woorde ontbreek nie Delia. Dit word net nie geplaas nie, want sekere sleutelwoorde is seker nie aanvaarbaar nie? Dit verbyster my altyd dat die sensuur so rof kan wees wanneer dit sulke belangrike onderwerpe aangaan. Hierdie is ongelukkig nie n geisoleerde geval nie. Kan (moet) mens dit nie maar n groot klok hang dat die hele wereld kan sien wat word van die mensdom nie? Sonder om te vloek of ander reels te oortree moet daar seker n debat wees oor wat de “joos” aan die gang is? Ek kan dink, maar dan word dit nie geplaas nie. Waar moet mens dan daaroor praat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.