Agtste Comrades vir koevoet-man

Danie de Wet (Foto: Verskaf)

Danie de Wet (40) is elke dag opnuut dankbaar vir die tweede kans wat hy in die lewe gekry het nadat ʼn fratsongeluk in die myn meer as sewe jaar gelede byna sy lewe geëis het.

Hy neem Sondag aan sy agtste Comrades-marathon deel en sukkel geensins met sy gesondheid nie, al is sy linkernier destyds ná die ongeluk verwyder. Hy sê nou draf is vir hom ʼn geneesmiddel wat hom fisiek én geestelik ná die ongeluk dra.

De Wet is op 10 Januarie 2015 deur ʼn 1,8 m lange koevoet van sy lies tot sy linkerskouerblad deurboor. Dié ingenieurstoesighouer en reddingswerker by die Sibanye-goudmyn buite Carletonville in Gauteng was met verlof toe hy op die spesifieke dag gevra is om by die myn te help.

(Foto: Facebook)

De Wet is ná 19 dae in die Milpark-hospitaal in Johannesburg ontslaan, nadat sy linkernier verwyder is en hy ʼn maagkonstruksie moes ondergaan.

Vir hom is dit ’n absolute wonderwerk dat die koevoet al sy belangrike organe gemis het en dat hy leef.

“Ek staan elke oggend op en besef hoe geseënd ek is om te kan leef en gesond te wees,” vertel De Wet aan Maroela Media.

De Wet was in Mei 2015, sowat drie maande ná sy ongeluk, terug op sy pos in die myn as deel van die reddingspan.

“Ek is geskuif na ’n rustiger deel van die myn. Ek was aanvanklik skrikkerig om terug te gaan, maar het dié vrees mettertyd oorkom. Ek is wel nog baie versigtig.”

Volgens De Wet is hy steeds bang om “op iets” te klim. Dit is omdat hy die dag van sy ongeluk op ʼn suigpyp probeer klim het. Dit was om een van die kleppe van ’n silo-dam, waaruit die water kom, skoon te maak wat met modder verstop was.

Hy moes ’n koevoet gebruik om die modder los te maak. Die koevoet was egter vol modder en nie duidelik sigbaar nie. Sy voet het gegly en ek het bo-op die koevoet geval.

Draf vir genesing

Danie de Wet en sy gesin [Foto: Verskaf]

De Wet het al sewe Comrades-marathonne agter die blad.

Hy het die 2001, op die ouderdom van 18 jaar, sy eerste Comrades afgelê. Vanjaar se marathon sal die tweede marathon ná die ongeluk wees.

“Ek het ná die ongeluk gevrees dat ek nie weer aan die Comrades sal kan deelneem nie, maar ek het ’n dryfkrag in my gehad om so gou as moontlik gesond te word.”

Hy het in 2018, net drie jaar na die ongeluk, weer sy tekkies uit die kas gehaal en die Comrades aangedurf.

Volgens De Wet het hy in 2017 erge depressie ontwikkel oor sy gesondheidsprobleme. Tydens ’n besoek aan die dokter het die dokter hom oorreed dat “niks hom keer om weer te hardloop nie”.

Hy het daarna weer begin oefen met die oog om die Comrades weer te doen.

“Comrades het my uit daardie donker gat gehaal. Ek het van toe af weer soos ’n mens gevoel.”

Volgens De Wet kan hy wel voel daar is ’n verskil aan sy lyf wanneer hy nou ná die ongeluk draf. “Ek moet effens harder werk om my doelwitte te bereik.”

Dié hou hom egter nie terug nie en De Wet beoog om oor die volgende twee jaar ook aan die Ironman-kompetisie deel te neem.

De Wet was 16 jaar oud toe hy begin draf het.

“Ek het toe al vir my ma gesê dat ek eendag aan die Comrades wil deelneem. Ná haar dood, ’n jaar later, het dit my motiveer om my droom na te streef. Ek het toe ’n jaar later (op die ouderdom van 18 jaar) my eerste Comrades-marathon voltooi.”

Motiveer ander

De Wet beoog ook om in die toekoms as motiveringspreker sy storie te vertel en só ander hoop te gee.

“Ek wil hê mense moet weer die klein goedjies in die lewe waardeer. Ons is geneig om alledaagse dinge as vanselfsprekend te aanvaar, maar ons besef nooit dat ons lewe in ’n oogwink kan verander nie.

“Wonderwerke gebeur elke dag, ons mis dit net. Die feit dat ek leef, is ’n wonderwerk.”

De Wet sê daar gaan nie ’n week verby dat hy nie aan die dag van die ongeluk terugdink nie. Hy het vir lank nagmerries gekry en ook vir ’n ruk lank aan doodverwagtingsindroom gely.

“Ek is egter daardeur en draf het my weer eens gehelp om te genees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

Danie jou yster!! Jy het die frase “Carpe Diem” lewe gegee deur jou voorbeeld. Ons manne kyk op na jou!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.