Ál meer joernaliste in hegtenis te midde van Covid-19

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Dinsdag sy kommer uitgespreek oor die toename in die aantal joernaliste van verskillende lande wat sedert die begin van die Covid-19-pandemie in hegtenis geneem en in die tronk gestop is.

Dít terwyl verslaggewing van media-instansies in sommige lande gedurende hierdie tyd gereguleer word.

Sanef het spesifiek die situasie in Tanzanië uitgesonder waar verskeie media-instansies die afgelope paar maande hul deure gesluit het op versoek van die Tanzaniese president John Magufuli nadat die betrokke instansies krities oor sy regering berig het.

Volgens die forum het Magufuli boonop onlangs onderdrukkende wette ingestel wat vryheid van media beperk en die veiligheid van joernaliste in dié land bedreig.

Hierdie wette sluit die Wet op Elektroniese en Poskommunikasie in, wat vereis dat iemand met ʼn blog of webwerf stewige lisensiegeld moet betaal. Media-instansies word ook gedwing om meer gereeld om bedryfslisensies aansoek te doen, sê Sanef.

Die Standard het Maandag berig dat die regering in Tanzanië alle plaaslike media-instansies verbied het om buitelandse inhoud uit te saai sonder die regering se toestemming ingevolge die wysiging van elektroniese en poskommunikasie vir radio en televisie.

Volgens Deutsche Welle beteken die verbod dat buitelandse joernaliste wat in Tanzanië werk deur ʼn amptenaar van die regering vergesel sal moet word wanneer daar verslag gelewer word.

Hopewell Chin’ono (Foto: Facebook)

Sanef het verwys na die Zimbabwiese ondersoekende joernalis, Hopewell Chin’ono, se inhegtenisneming. Maroela Media het vroeër berig Chin’ono is op 20 Julie vanjaar sonder ʼn lasbrief in sy huis in Harare in hegtenis geneem.

Die Committee to Protect Journalists het aangevoer hy staan tereg op aanklag van “aanhitsing tot openbare geweld” en “aanhitsing van die publiek om openbare geweld te pleeg”. Dit wil egter voorkom of Chin’ono in hegtenis geneem is vir sy beriggewing oor korrupsie en misdade.

Volgens Sanef is Chin’ono ná drie weke steeds in die tronk. Sy aansoek om borgtog is reeds twee keer van die hand gewys.

Die forum verwys ook na die Al Jazeera-joernalis Mahmoud Hussein wat in aanhouding is in Egipte, asook die onlangse inhegtenisneming van die mediamagnaat en prodemokrasie-aktivis Jimmy Lai. Lai, die stigter en uitgewer van Apple Daily, is Maandag in Hongkong in hegtenis geneem.

Volgens Sanef het die Egiptiese owerhede Hussein se aanhouding Sondag met nog 45 dae verleng. Hy word sedert Desember 2016 sonder ʼn verhoor aangehou.

Hussein word daarvan beskuldig dat hy vals nuus versprei het en geld van buitelandse owerhede ontvang het om die staat se reputasie te beswadder.

Lai is om die beurt saam met sy twee seuns en ses bestuurders van Apple Daily se moedermaatskappy Next Digital in hegtenis geneem ingevolge China se nuwe nasionale veiligheidswette wat einde Junie in Hongkong aangeneem is.

Sanef verwys na die 2020 World Press Freedom Index waarin daar bevind is dat die aantal lande wat as veilig vir joernaliste beskou word toenemend daal, terwyl outoritêre regimes hul greep op die media versterk.

Christophe Deloire, sekretaris-generaal van Reporters Without Borders (RSF) wat die indeks opgestel het, waarsku dat die Covid-19-pandemie outoritêre regerings die geleentheid bied om maatreëls in te stel wat in normale omstandighede nooit toegelaat sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Moenie worry nie….die stilmaak van stemme wat kritties teenoor die ANC is kom. Praat en se maar vir soe lank as wat julle kan op MM, want eendag kan ons stemme hier ook stilgemaak word. Freedom of speech is just an illusion.

Adam Adriaan ·

Kommunisme, kommunisme, kommunisme!! dit roep ten hemel.

Simon ·

Ons moet met ‘n oopkop kyk na die joernalistiek. Daar is joernaliste en joernaliste. Die een groep doen verslag oor die werklike verloop van gebeure. Die ander groep is sensasiesoekend en bedwelm hul lesers met onsinnige twak wat uiters gevaarlike resultate onder die gepeupel en oningeligtes kan saai. Kyk maar na die afelope klompie maande se gebeure wereldwyd en die joernalistiek se invloed daarop.

Michael ·

Ek kan nie besluit met wie ek deesdae ‘n groter probleem het nie: joernaliste of wetstoepassing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.