All Blacks bult spiere en wen op Ellispark

Damian de Allende probeer ’n gaping vind. Foto: GB Jordaan.

Ja-nee. ’n Mens kry inderdaad toe nie iets soos ’n swak All Blacks-rugbyspan nie. Dalk ’n sukkelende een, maar beslis nie ’n swak groep nie.

Die Nieu-Seelanders het sopas die tweede toets teen die Springbokke op Ellispark met 35 – 23 gewen. Sodoende het hulle vir eers hul kritici se monde gesnoer, terwyl Ian Foster vanaand aansienlik rustiger sal slaap.

Die besoekers het ongetwyfeld hul huiswerk vir die wedstryd gedoen. Hulle het vandag met meer dringendheid by die afbreekpunte as verlede naweek op die Mbombela-stadion gespeel, iemand soos Jordie Barrett was ’n veilige vesting onder die hoë bal en hulle het soos die Kiwi’s van ouds op die aanval gelyk.

Daarteenoor was die Springbokke – net soos in die Laeveld – weer eens ontwrig toe een van hul spelers met harsingskudding die veld verlaat het.

Hierdie keer het Jesse Kriel (wat in Kurt-Lee Arendse se plek op regtervleuel uitgedraf het) homself disnis teen Caleb Clarke vasgeloop.

Vergeet maar vir eers van Rocky Balboa se vuiste; dit is eerder Clarke se knieë wat wilde uitklophoue kan plant.

Lukhanyo Am het een van die Springbokke se drieë gedruk. Foto: GB Jordaan.

Tog het die Springbokke nie voor die meer as 61 500 entoesiastiese ondersteuners gaan lê nie en ’n briljante Lukhanyo Am en die bestendige Handré Pollard het toegesien dat die All Blacks net ’n rustydvoorsprong van vyf punte kon geniet.

Die Suid-Afrikaners het selfs in die tweede helfte die voortou geneem, en toe Beauden Barrett met ’n geel kaart van die veld gejaag is omdat hy onwettig in Jaden Hendrikse se pad voor die All Blacks-doellyn gestaan het, het ’n hele paar ondersteuners seker die braaivleisvure begin aansteek.

Maar Rieko Ioane se warrelwindlopie langs die kantlyn het gesorg dat enige Springbok-vreugdevuur weer binne ’n japtrap geblus word.

David Havili het ’n rukkie later gaan druk, terwyl Scott Barrett se drie die wedstryd finaal buite die tuisspan se bereik geplaas het.

Die Springbokke het hul bes probeer, maar die All Blacks het gewys waarom hulle ’n kampioenspan is.

Baie Nieu-Seelandse rugbyjoernaliste sal nou hul woorde moet sluk.

  • Puntemakers:

All Blacks: Drieë: Same Cane, Samisoni Taukei’aho, David Havili en Scott Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (3). Strafskoppe: Mo’unga (3).

Springbokke: Drieë: Lukhanyo Am en Makizole Mapimpi. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafskoppe: Pollard (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Die AB het die swak keuses en stereotype plan uitgebuit. Watch die scoreboard.

Nie Verbaas ·

Wanneer jy onnosel besluite maak moet jy maar betaal daarvoor. Waar het jy gesien dat jy in die laaste minute terwyl ons voorloop besluit om besit weg te skop teen so gedugte span? En dit nadat hulle kon sien dat dit nie die geliefde effek gedurende die wedstryd gehad het nie. Kry vir julle.

Niklaas ·

Ons het nie verdien om te wen nie. En die AB s was gewond en vol wraakplanne. Daar was een of 2 swak keuses van die afrigter en dan het sommige spelers dom foute gemaak . Dit gebeur soms .Nou wag die Aus span en die sterk Argentyne op ons. Maar ons behoort nie te vrot teen hul te vaar nie. Net nie vir Elton terugbring nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.