Ambagstudente sal baat by ‘historiese ooreenkoms’  

Dr. Dirk Hermann van Solidariteit en Gerhard Papenfus van NEASA teken die ooreenkoms. (Foto: Verskaf)

Die werkgewerorganisasie NEASA en die vakbond Solidariteit het ʼn ooreenkoms gesluit wat sal bydrae daartoe dat duisende ambagstudente van werk verseker is.

Volgens die ooreenkoms sal Solidariteit se Ambaggilde deur Sol-Tech opleiding in tegniese vaardighede vir die bedryf bied en sal hy ook voortgesette opleiding en kort kursusse aanbied. NEASA sal op sy beurt sy lede aanmoedig om Sol-Tech-studente vir praktiese werk in te neem en om hulle ook permanent in diens te neem. Voorts sal NEASA sy lede aanmoedig om studiehulp vir behoeftige studente te borg. Meer as 10 000 maatskappye is lid van NEASA.

Maroela Media het in Februarie berig dat nagenoeg 370 ambagstudente vir die 2021-akademiese jaar by Sol-Tech se nuwe kampus in Pretoria aangemeld het.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sal duisende studente in die volgende paar jaar voordeel trek uit die ooreenkoms. “Werknemers en ondernemings sal boonop voordeel trek uit meer produktiewe prosesse as gevolg van wêreldklas vaardighede.

Dr. Dirk Hermann van Solidariteit en Gerhard Papenfus van NEASA by Sol-Tech se kampus. (Foto: Verskaf)

“Die ooreenkoms is histories van aard en draai die tradisionele vakbondwese op sy kop. Om opleiding en werkplasing vir lede en hul kinders te beding, is die grootste voordeel wat ʼn vakbond vir sy lede kan bied,” het Hermann gesê.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van NEASA, het aan Maroela Media gesê werkgewers oor die algemeen het ʼn enorme behoefte aan wêreldgehalte vaklui. “Topklas vakmanne het nie net ʼn goeie gesindheid nie, maar is bereid om hard te werk vir bevordering, eerder as om daarvoor te onderhandel. Ek is oortuig dat die soort opleiding wat Sol-Tech bied vir ons vakmanne met hierdie gesindheid en gehalte sal lewer.”

Hermann sê werkgewers en werknemers moet veral in krisistye hande vat met die oog op groei. Die verwerwing van vaardighede is die beste groeistrategie wat die grootste opbrengs lewer. Solidariteit beplan om soortgelyke ooreenkomste met ander werkgewers en werkgewergroepe te sluit.

“Solidariteit sal natuurlik nog in konflik met werkgewers oor arbeidsverhoudingskwessies verkeer, maar dit moenie groeivennootskappe neutraliseer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Bart-Man ·

Asseblief moet net nie te suksesvol of te Afrikaans wees nie. Julle weet wat ek in my sarkasme bedoel.

Spook ·

Ek is ook bang daarvoor. Netnou is dit weer een-of-ander bevoordeling. Of die alternatief is om nie altyd die suksesse aan die grootklok te hang nie.

Anton ·

Dit terwyl die studente by gevestigde universiteite brand en betoog. So gaan ons weer vooruit en op ons eie.

lodewyk ·

Laat dit nou n voorbeeld vir Cosatu,Num,Numsa ensss,wees,hulle het baie meer lede as Sol maar wat word van die lede se geld?-maar ek dink ons almal ken die antwoord op die vraag,die ANC en EFF gaan nou seker weer n groot eier le oor die ooreenkoms?

Jaco ·

Al gee NEASA nou ook watse voorkeur, hang aanstellings nie van hulle af nie. Hulle kan bloot aanbevelings by werkgewers maak. Werkgewers is egter gebind aan drakoniese wette van regstellende aksie en BEE, waarvoor die departement van arbeid reeds inspekteurs uitstuur wat besighede beboet wat nie dié wette reg toepas nie. Moenie te hoë verwagtinge by soltech se studente skep nie. Môre oormôre kan
NEASA nie aan hulle beloftes en die hoë verwagtinge wat hulle by mense geskep het voldoen nie. Al wat hulle dan gaan sê is “jammer jy kry nie werk nie. Ons het gedoen wat ons kon maar ons kan nie verder help nie”

Nuff ·

Genade Jaco. Hoe kom jy deur ‘n dag met so ‘n swartgallige lewensbeskouing. As almal gaan ophou probeer gaan dit nog erger wees my vriend.

Karel Kobus Kruger ·

Los vir Jaco. Hy geniet die diep donker gat waarin hy homself ingegrawe het.

Vrijburger ·

Nie ‘n probleem nie, jong gekwalifiseerde vakmanne is wereldwyd in aanvraag.

Groen Ghoen ·

Een van die dae het julle die “morele hoë grond?” Niks word verwoes en afgebrand nie…. Waaroor gaan die koppeswaaiers dan kerm, kla en wroeg? Arme ou Max du Preez en Piet Croucamp gaan later sonder werk sit!

Jedi Knight ·

Kan jy een voorbeeld in die huidige politiek noem waar die morele hoëgrond al tot iemand se voordeel gestrek het?

Tjom ·

Nou gaan al wat n agtergeblewene is soek vir moeilikheid, beginnende by die manne sonder maskers

Fritz ·

Die agtergeblewenes soek nooit moeilikheid met Afriforum en Solidariteit se hoofde nie, want hulle weet daai ouens vra nie om verskoning vir hul woorde en dade nie. Hulle soek net moeilikheid met liberales wat heeltyd almal probeer tevrede stel en oor alles om verskoning vra.

Peetjie ·

Daar is n nuwe lied wat sê: Ons sal self….
Dis presies wat hier gebeur…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.