‘Anargie’ in Johannesburg ál groter moontlikheid

Die Johannesburgse middestad. (Foto: Tebogo Iosaba/Unsplash)

Business Leadership South Africa (BLSA) het nou ook sy stem gevoeg by die koor van kommer oor die chaotiese stand van sake in die Johannesburgse metroraad.

Die sakeliggaam is bekommerd dat anargie moontlik binnekort in die Goudstad kan uitbreek.

Dít nadat verskeie burgerlike organisasies uit desperaatheid ʼn krisiskomitee gestig en verlede week in ʼn ope brief ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen het om in te gryp by die beleërde metroraad.

Die wanfunksie in die ekonomiese hoofstad word toegeskryf aan ʼn onstabiele koalisie en verwaarloosde instandhouding, vererger deur beurtkrag wat sakeondernemings ure lank lamlê.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), die Ahmed Kathrada-stigting, Action for Accountability, Defend our Democracy en die Johannesburg Inner City Partnership meen dit is nie te laat vir die Johannesburgse stadsraad om te ontbind nie.

Die ANC en die EFF is tans in koalisie met kleiner partye aan bewind in die Goudstad. Kabelo Gwamanda van die Al Jama-ah-party dien sedert Mei as burgemeester van Johannesburg.

Intussen word Johannesburgers daagliks gekonfronteer met slaggate, lekkende waterpype, rioolvuil wat oorloop, verkeersligte wat buite werking is en wetteloosheid, sê die nuut gestigte krisiskomitee.

“Tragies genoeg is die stad ook nie veilig nie. Lewens gaan verlore in brande en gasontploffings skeur strate uitmekaar.”

Die organisasies betrokke by die krisiskomitee sê die Stad Johannesburg beleef al ʼn geruime tyd ʼn geleidelike toestand van agteruitgang wat eindelik disinvestering tot gevolg gaan hê.

“Die woede en frustrasie van inwoners sal ook plek maak vir gewelddadige betogings, tensy iets nou gedoen word,” waarsku die krisiskomitee.

BLSA sê op sy beurt die onlangse dodelike brand in Hillbrow, die gasontploffing in die middestad en ʼn toename in geboukapings en misdaadsindikate is waarskuwings dat dringende optrede nodig is om die algehele ineenstorting van Johannesburg te voorkom.

“Selfs anargie raak nou vinnig ʼn ware bekommernis,” sê Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van BLSA.

Mavuso meen die agteruitgang in Johannesburg is in dié stadium só erg dat daar geen kitsoplossings is nie.

“BLSA glo produktiewe vennootskappe tussen sakeondernemings en plaaslike regering sal die stad se posisie vir groei versterk, die plaaslike ekonomie bevorder en Johannesburg se posisie as die hartland van Suid-Afrika se ekonomie herstel.”

Mavuso sê voorts dialoog is van kritieke belang omdat ʼn sake-en-munisipaliteit-reëling ʼn balans sal kan bewerkstellig tussen die aanpak van inwoners se maatskaplike behoeftes en sakebelange wat weer broodnodige finansiering en hulpbronne vir dienslewering sal lok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Watsenaam ·

Dit help nie om n puinhoop af te brand nie, die rotte hardloop net na n ander plek toe.

melaney ·

Kirst, as jy dink jy maak ons Johannesburgers jaloers, kry jy dit heeltemal reg.

Di ·

ALLES waar die ANC en EFF by betrokke is, is CHAOTIES en KORRUP. Boetie sorg vir boetie en GEEN dienste word gelewer

Hannes ·

My oorlede Pa het díe goed in 1980’s al voorspel, nou sit ons met die gebakte pere.

Samuel ·

Is hierdie algehele verval en chaos nie dalk presies wat die ANC en EFF wil hê nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Korporatiewe hoofkantore kan na die Wes-Kaap verhuis. Nie net Kaapstad nie, ook Wellington, Malmesbury, Worcester, Oudsthoorn en baie ander dorpe. Gauteng is kaput.

Woes ·

Wanneer laas was jy in Oudtshoorn chom?????? Geen plotieke wil om te regeer van DA en VF, dis die Wes Kaap se hoofstad van slaggate

Bolandse Nooi ·

Haikôna! Los vir Worcester uit, Republikein! Elke 4de motor in hierdie dorp, het deesdae ‘n GP-, NP-, MP of KZN-“tag” op … Ons kos, woonplek en werk word deur die “Northeners” wat nou uit hulle verrotte provinsies vlug, letterlik voor ons oë, neuse en monde weggeraap!

Andre ·

…die ANC kan nie ‘n spaza shop bestuur nie; hoe dan nog ‘n stad soos Johannesburg?

Stofdonkie ·

Hulle moet in Lichtenburg kom kuier dan sal hulle sien hoe baie hulle nog het om voor dankbaar te wees. Ons sit weke aaneen sonder elektrisiteit en het net sowat 2 ure per dag water. Die anc, eff en da skitter in hulle afwesigheid wanneer inwoners vrae vra oor hoe lank elektrisiteit gaan neem voor dit herstel is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.