ANC-koukuslede kasty Gordhan, Mantashe

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan en pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Ontevrede lede van die ANC stel die slagordes teen pres. Cyril Ramaphosa en sy vennote op, en verlede Donderdag se geslote ANC-koukus was die eerste veldslag in die oorlog.

Maroela Media het verlede week berig dat bondgenote van Ramaphosa baie bekommerd was oor die afloop van die koukus nadat ontevrede ANC-LP’s die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, voor die koukus gedaag het om sy beleid oor die sukkelende SAL te verduidelik en verdedig.

Luidens bronne was die Ramaphosa-kerngroep trouens so bekommerd dat hulle een van die gewildste ANC-leiers – Gwede Mantashe, wat benewens minister van minerale hulpbronne en energie ook die ANC se nasionale voorsitter is – ingestuur het om saam met Gordhan te verduidelik. Mantashe is ook ʼn sterk beleidsbondgenoot van Ramaphosa.

Mantashe en Gordhan het vervolgens die beleid oor die SAL uiteengesit wat hulle, soos die president en die minister van finansies, Tito Mboweni, die afgelope tyd verkondig en toepas.

Verskeie ANC-agterbankers het duidelik laat blyk hulle is nie tevrede met die ministers se verduidelikings nie en veral jonger ANC-LP’s, asook LP’s wat in Mei vir die eerste keer parlementslede geword het, het Gordhan en Mantashe met kritiese vrae gepeper. Ontevrede LP’s het gesê kabinetslede stuur verskillende seine oor beleidskwessies. Mantashe het aangevoer dit is nie verskillende beleidstellings nie, net verskillende aspekte wat beklemtoon word.

Gwede Mantashe (Foto: Courtney Africa/African News Agency/ANA)

ʼn Tweede beswaar wat geopper is deur ontevrede koukuslede is dat die ANC se beleidskonferensies beleidsbesluite neem, maar dan pas die kabinet dit nie behoorlik toe nie, of hulle skep heeltemal nuwe beleid wat die konferensie (die ANC se hoogste beleidmakende liggaam wie se besluite bindend is) se besluite ignoreer of wysig.

Hoewel bronne daaroor verskil of dit tydens Donderdag se koukusvergadering pertinent geopper is (party sê dit is, ander sê dit is nie), is dit algemene kennis dat die ontevrede ANC-LP’s onder meer ook meen die regering ontduik die besluite van die vorige ANC-beleidskonferensie oor onteiening sonder vergoeding, asook oor die nasionalisering van die Reserwebank.

In ontevrede koukuskringe word beweer die regering luister net na die groot banke, die graderingsmaatskappye, die VSA en Europa – glad nie na die besluite van die ANC aan wie hulle veronderstel is om te behoort nie.

Hierop het Mantashe gesê die ANC se beleidskonferensies vind net elke vyf jaar plaas en omstandighede verander. Dinge gebeur nie net elke vyf jaar nie en intussen moet die kabinet die land so goed hy kan regeer, wat voortdurende aanpassing by veranderende omstandighede verg – soms vlugvoetig, in landsbelang.

Mantashe het weer met feite en syfers verduidelik hoe benard die land se ekonomiese toestand is, en hoe min opsies daar in die praktyk bestaan. Hy het gesê daar is gewoon nie geld om nog ʼn reddingsboei van R2 miljard aan die SAL te gee nie (daar is baie van die ontevrede LP’s wat op so ʼn reddingsboei aandring).

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

ʼn Ander kwessie waaroor verskeie koukuslede ontevrede is, is die voorgenome gedeeltelike of algehele privatisering van die SAL, wat volgens hulle direk strydig is met die besluite wat die vorige ANC-konferensie teen privatisering geneem het. Mantashe het verduidelik dat daar geen ander uitweg is nie, aangesien die geld op is. Die regering het reeds begin soek na “strategiese vennote” in die taal van die Ramaphosa-groep – taal wat die ontevredenes meen net ʼn vyeblaar is vir troubreuk.

Mantashe en Gordhan het die werklikheid verduidelik van hoe naby Suid-Afrika aan algehele afgradering na rommelstatus is. Hulle het aan die koukus uiteengesit dat die besluit daaroor einde Februarie deur die graderingsagentskap Moody’s geneem sal word. As Moody’s die land na rommelstatus afgradeer, kan internasionale banke byvoorbeeld lenings wat aan Suid-Afrika gemaak is, inroep – en die land is gewoon nie tans in ʼn posisie om dit te betaal nie.

Voorts was daar ontevredenheid in die koukus oor die SAL nou ʼn wit hoof het. Mantashe het uitgewys dat die afgelope tien SAL-hoofde swart was, maar dat hulle nie die lugdiens kon regruk nie en telkens bedank het wanneer die druk erg was. Mantashe het padlangs gesê dit is dus onsin – soos in sommige kringe, ook binne die ANC, beweer word – dat Gordhan net wit mense en Indiërs in leiersposisies aanstel. Buitendien, so het Mantashe voortgegaan, is die ANC veronderstel om nierassig te wees. Alle Suid-Afrikaners moet dus toegelaat word om ʼn bydrae tot die land te lewer. Boonop is die SAL so diep in die pekel dat die beste persoon vir die taak aangestel moes word, ongeag ras. Hopelik, so het Mantashe voortgegaan, sal die nuwe SAL-hoof nie ook die pad vat as die druk oplaai nie.

Volgens ʼn hoogs gerespekteerde koukuslid wat Ramaphosa steun, het Mantashe en Gordhan absoluut realisties en korrek verduidelik hoe sake staan, maar hulle het geen indruk op die ontevredenes gemaak nie. Hul eie ondersteuners is tevrede gestel, maar as oorhaling van ontevredenes het Mantashe en Gordhan se vertoning platgeval. Dít is hoe baie in die Ramaphosa-kamp dit lees.

Daar heers diep kommer hieroor onder senior Ramaphosa-ondersteuners. Daar is uiteindelik bepaal dat die koukus nie oor die kwessies mag stem nie, want dit val buite sy mandaat. Die kwessie moet op die ANC se nasionale algemene raad in die middel van aanstaande jaar besleg word, is besluit.

Dat nóg die ontevredenes nóg die Ramaphosa-ondersteuners op ʼn stemmery aangedring het, toon dat nie een van die twee kante seker is wie die meerderheidsteun in die koukus geniet nie.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Hieroor is senior Ramaphosa-gesinde ANC-leiers eweneens bekommerd. Hulle meen dit gaan nie om die hondjie nie, maar om die halsbandjie – dat die ontevredenes voorgee hulle protesteer teen die ignorering van beleidsbesluite, maar eintlik is daar kommer oor die Ramaphosa-groep se aandrang op proaktiewe, streng vervolging van korrupsie op veral provinsiale en munisipale vlak onder ANC-lede wat as takleiers die meerderheid stemkrag sal hê in die nasionale algemene raad waar hierdie besluite geneem sal word.

Hierdie ANC-takleiers dien egter gewoonlik ook in provinsiale wetgewers of stadsrade, en gegewe die omvang van korrupsie en wanbestuur in ANC-beheerde provinsies en stadsrade – soos uitgewys en in verskeie gevalle vir vervolging aangegee deur die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu – is daar groeiende kommer onder sulke ANC-lede dat hulle hul werk en inkomste kan verloor, ʼn misdaadrekord kry en moontlik tronk toe gestuur kan word.

Die koukus het juis plaasgevind op die oggend dat die koukuslid, Zuma-ondersteuner en oudminister van staatsveiligheid, Bongani Bongo, in hegtenis geneem is op bedrogverwante klagte. Binne die koukus word gekla dat selektiewe vervolging plaasvind, en sommige ontevredenes meen dit lyk asof die Skerpioene nooit ontbind is nie. Hierdie ontevredenes bedoel so ʼn opmerking as kritiek op die huidige magshebbers.

In die Ramaphosa-kamp is die teruggryp na die taal en simbole van die Zuma-veldtog in die aanloop tot die ANC-konferensie van 2007 in Polokwane waar ʼn heersende president (Thabo Mbeki) deur ʼn populis (Zuma) ontsetel is, wel deeglik opgelet – en met ontsetting.

Daar word gemeen ʼn aanslag teen Ramaphosa word tydens die nasionale algemene raad beplan, en die stryd gaan ook in die streeksbyeenkomste, takbyeenkomste en provinsiale algemene rade gelewer word – ʼn stryd om politieke lewe en dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Realis ·

Shame! Pravin Gordhan het oud geword die afgelope 5 jaar! Ramaphosa lyk nog soos in die dae, toe hy vir Roelfie ore aangesit het……

George in Bloem ·

O wee die arme mens wat kom staan tussen die korrupte kaders en hul lekker “gravy train”.

André-Chris ·

Noujatoe, daar het hulle dit uit die perd se bek gehoor, die besluite wat op hul 5 jarige beleidskonferensies geneem word, kan in effek ter eniger tyd aangepas of verander word sonder hul toestemming, dit in die land se belang en na gelang die omstandighede. Wat ‘n skok moes dit nie vir hulle gewees het nie.

En toe stuur Cyril Ramaphosa die grofgeskud in om dit namens hom aan die mense te verduidelik. Dit sal nou interessant wees om te weet hoe ACE en David Mabuza gaan reageer, en natuurlik ook wat die reaksie van die mense met die ANC se volgende beleidskonferensie gaan wees.

Die streep is in die sand getrek … hier kom pêre!

Sarel P ·

Zuma ondersteuners duidelik vrek bang vir wat hulle kant toe kom, verlies ann die lekker lewe en moontlik tronkstraf. Dit is juis die nie kan of wil verstaan wat die land het waar sy is en steeds verstaan hulle niks. So raak ontslae van die kaders aangesien hulle nie die begrip het om te verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.