ANC, Mbalula skuldig aan minagting van hof

Fikile Mbalula (Foto: @MbalulaFikile/X/Twitter)

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, en sy party is opnuut in die sop ná die hooggeregshof in Johannesburg hul skuldig bevind het aan minagting van die hof.

Dit volg ná die DA vroeër ’n aansoek ingedien het om die rekords van die ANC se kaderontplooiingsproses te bekom.

Die rekords ter sprake hou verband met die ANC se nasionale kaderontplooiingskomitee en dateer terug tot Januarie 2013, toe pres. Cyril Ramaphosa die voorsitter van dié komitee geword het.

Volgens die DA het die ANC egter, ten spyte van dié bindende bevel, van die rekords weerhou en ander vernietig.

Die hof het Woensdag bevind die ANC het in stryd met die eertydse bevel opgetree.

“Vandag se uitspraak bevestig die DA se siening dat die ANC willens en wetens onwettig en onregmatig optree,” het dr. Leon Schreiber, DA-woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, in ʼn verklaring gesê.

Hy het verder ʼn beroep gedoen op die president om by die wet te hou en gehoor te gee aan die uitspraak en die relevante inligting – spesifiek die inligting wat op staatskaping betrekking het – bekend te maak.

Die ANC het tot en met 24 April tyd om aan die nuwe bevel gehoor te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anton ·

Fikile, jy moet asb aanbly en staan vir president! Jy is voorwaar n aanwins vir die opposisie.

Casper ·

Nou kan hulle verdoemende bewyse redigeer of vernietig.Zuma is tronk toe nadat hy skuldig bevind is aan minagting van die hof.Hoekom is hierdie narre bo die wet verhewe.

Ore ·

Indien mense geglo het dat die ANC alle rekords sou verskaf kan hulle maar aan die ooievaar ok glo. Hoekom sal ‘n kriminele organisasie inligting verskaf wat hulle sal/kan/gaan inkrimineer?

Misky ·

Ag, wat beteken dit nou eintlik? Hulle steur hulle inelkgeval aan niks of niemand nie.

Riaan ·

En na die 24ste kry hulle net weer ‘n nuwe datum. Implementeering van ‘n hofbevel beteken net mooi niks vir die klomp. Weet wragtig nie waarom daar nog hof verrigtinge vir die “hoogeplaastes” is nie. Mors van tyd en belasting geld.

daarsdit ·

Ore – Ek glo in die ooievaar, my ouma het mooi vir ons verduidelik dat die voel die kinders bring.

Cassie Carstens ·

Stem saam met Republikein in die Weskaap. Of stuur hom DRK toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.