Kaderrekords: DA soek Fikile se bloed oor uitstaande dokumente

Fikile Mbalula. (Foto: Flickr/GovermentZA)

Die DA sleep die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, op ʼn dringende basis hof toe vir die beweerde minagting van ʼn hofbevel van die Konstitusionele Hof wat Mbalula verplig om volledige rekords oor die ANC se kaderontplooiingsproses te oorhandig.

Die party se aansoek is vroeër die week by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Die rekords ter sprake hou verband met die ANC se nasionale kaderontplooiingskomitee en dateer terug tot Januarie 2013, toe pres. Cyril Ramaphosa die voorsitter van dié komitee geword het.

Maroela Media het vroeër berig dat sommige van hierdie rekords reeds – na ʼn jarelange regstryd – aan die DA oorhandig is. Die bevel is ingevolge die Wet of die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) gemaak.

Die party sê egter dat die ANC, ondanks dié bindende bevel deur die hoogste hof in die land, verskeie dokumente weerhou het – veral dié tussen 2013 en 2018 toe die president in beheer van kaderontplooiing was.

Volgens dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, het die ANC bepaalde notules by die verskafde rekords uitgesluit, onleesbare inligting verskaf en inligting op skootrekenaars vernietig terwyl die hofproses aan die gang was.

Schreiber sê voorts die ANC se versuim om die hofbevel na te kom, is ʼn aanslag op die regbank sowel as die oppergesag van die reg, wat ʼn gevaarlike presedent skep. Hy wil nou hê dat die hof Mbalula en alle ander amptenare wat by die vernietiging van rekords betrokke was, persoonlik aanspreeklik hou.

Die ANC moet ook verplig word om alle dokumente te oorhandig soos deur die hof gelas, asook alle skootrekenaars en hardeskywe waarop kaderdokumente gestoor was en vernietig is. Die DA wil die laasgenoemde items aan ʼn onafhanklike IT-deskundige oorhandig.

“Die ANC is so desperaat om sy vuil kadergeheime te verdoesel – spesifiek Ramaphosa se rol in dié praktyk wat, by monde van die Zondo-kommissie, staatskaping bevorder het – dat hy bereid is om ʼn grondwetlike krisis te ontketen.”

Schreiber sê die DA is egter vasbeslote om die ANC se kaderontplooiingskorrupsie aan die groot klok te hang.

Benewens die nasionale kaderontplooiingskomitee se rekords, gaan die DA ook ’n Paia-aansoek indien om alle rekords van die ANC se nege provinsiale kaderontplooiingskomitees te bekom.

Die party sal onder meer vra vir toegang tot die notules van dié onderskeie streekkomitees.

Schreiber sê ʼn reeks dokumente wat aan die DA uitgelek is, bevestig die bestaan van hierdie komitees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wondermaarnet ·

Daardie dokumente het “voete gekry” anders rol daar nog ‘n paar kaders se koppe. Hoe gerieflik om net te sê die dokumente is weg?

Anton ·

Dit is belangrik dat Fikile aanbly in sy pos! Dit is tot voordeel van die oposisie.

Dup ·

Hou op om kosbare tyd en geld te mors.Die meerderheid sal tot in ewigheid regeer,kaders of nie kaders nie!

JohanR ·

Alles redacted en document van 2013 tot 2017 is nie daar nie. 2013-2017 is die jare toe Ramaphosa poste aan al die kaders verskaf het. Die ANC sal nou vasbyt tot na 29 Mei….skelms en lieg bekke!

Peetjie ·

Daar is geen manier dat hulle die belangrikste dokumente sal oorhandig nie …às dit nog bestaan! Te veel inligting is daarop opgesluit….

Vonkprop ·

Het enigiemand gedink die ANC sou alles net so gee. Niks maar niks loop reguit met hierdie ouens nie. Daar moet altyd ‘n storie wees.

Danie ·

Al hierdie politieke partye wat so geld mors met sake teen die ANC, los dit koop eerder grond en boe huise en woonstelle vir die mense wat vir julle stem. Nou gooi julle geld in die water om die land se mense te se dat die ANC korrup is. Ons almal weet dit en nog nie een hofsaak teen hulle het hulle verhoed om daarmee te stop nie. Waarvoor stem ons vir julle. Ons stem vir julle vir n gemakliker lewe.

Cassie Carstens ·

DA moet hierdie vervolgings los want kaderontplooing is reeds deur ANC bevestig. Gaan niks meer kry nie. Veg liewers vir die verkiesing om stemme te werf want julle gaan stemme verloor met strooi sake wat julle aanpak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.